OUDTSHOORN NUUS - Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn is tans volstoom aan die gang, met feesgangers wat die 29ste aanbieding van hierdie ikoniese fees geniet.
Die fees het op 31 Maart afgeskop en duur tot Sondag 6 April.
Die fees het met 'n indrukwekkende Openingskonsert begin, wat voor 'n stampvol feesterrein plaasgevind het. Vooraf het kunsliefhebbers die geleentheid gehad om die opening van die visuele kunsuitstalling, Diepe Grond, by te woon en verskeie genres van kunswerke te besigtig.
Hierdie unieke uitstalling het groot belangstelling gelok en die artistieke rykdom van die fees beklemtoon.
Met vandag, 3 April, reeds die derde dag van die fees, kan feesgangers uitsien na nog drie dae vol vermaak, kuns, stalletjies, inspirerende gesprekke en natuurlik heerlike kos.
Hoogtepunte van die feesprogram:
Musiekverhoë: Elke dag bied energieke optredes deur top Suid-Afrikaanse kunstenaars.
Die Castle Lager-verhoog en Feesmark-verhoog is vanjaar weer die middelpunt van musiekvermaak, met optredes van onder andere Posduif, Jodi Jantjies, Emo Adams, Majozi en Spoegwolf.
Teaterproduksies: Die fees spog met 'n indrukwekkende reeks toneelstukke en komedie-vertonings. Onder die hoogtepunte tel Speelgoed van glas en kykNET se Niggies-aktivering.
Klein Karoo Ervarings: Feesgangers kan historiese wandeltoere, sterrekyk en ander spesiale ervarings geniet wat die unieke karakter van die Klein-Karoo beklemtoon.
Karoo Kaarte: Hierdie bekroonde gemeenskapsprojek bied vanjaar die produksie Die Swartmerrie, wat fokus op die geskiedenis van Oudtshoorn se treinstasie. Dié projek is 'n inisiatief wat die stories, geskiedenis en leefstyl van die streek op 'n unieke manier vasvang. Hierdie projek bring plaaslike inwoners se verhale tot lewe deur interaktiewe kaarte, visuele kuns en digitale media.
Vanjaar is daar 'n besondere klem op hoe die Karoo se mense hul omgewing ervaar – van die wyse waarop hulle water bestuur tot hoe gemeenskappe saamstaan in uitdagende tye.
Foto galerye:
Videos:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’