OUDTSHOORN NUUS - 'n Opvolgvergadering met karwagte is Donderdagmiddag, 26 November, by Oudtshoorn-polisiestasie gehou.
Hennie Davel wat die Oudtshoorn-besigheidskamer verteenwoordig, ao. Wynand du Plessis, Jackson Bokwe en Darryl Erasmus van munisipale wetstoepassing, asook 17 karwagte was teenwoordig.
Davel is op 'n missie om die saak rondom karwagte in Oudtshoorn te besleg. "Hierdie is 'n georganiseerde beginpunt en is 'n databasis van elke karwag die eerste stap."
Voorwaardes
Hy wil toesien dat die karwagte wat hul besonderhede gegee het in die databasis die nodige opleiding ontvang.
"Maar, ek het my voorwaardes, oftewel dit is die dorp se voorwaardes, jy is nugter, skoon, netjies, respekvol, ordelik en jy doen diens in jou aangewese blok."
Hy het benadruk dat elkeen in die oggende by 'n aangewese persoon sal moet inteken, en weer uit teken. Daar sal ook onderskeid getref moet word tussen dagwagte en nagwagte. Tydens die samekoms het slegs twee karwagte aangedui dat hul laat diens doen voor twee restaurante in die dorp.
Sy visie is dat hulle almal dieselfde herkenbare drag sal dra met die nodige identifikasie.
"Slegs geregistreerde karwagte sal dit ontvang. Die Oudtshoorn-besigheidskamer gaan betrokke raak met die inisiatief wat ons ‘Die Vollies Car Guards’ wil noem."
Waarde toevoeg
Vir Davel is dit ook meer as net om toe te sien Oudtshoorn kry 'n georganiseerde karwagstelsel sonder onaangename insidente. Hy wil waarde toevoeg tot dié mense se lewens.
"Ek wil hê hulle moet trots voel op hulself en die werk wat hulle gaan doen. Hul gaan dissipline leer, maar hul moet opgehef en natuurlik behoorlik opgelei word."
Hy wil ook weer die Karwag van die Maand-sertifikaat laat realiseer om 'n verdere aansporing in die samewerkingsooreenkoms te wees.
Oudtshoorn-polisie, asook Oudtshoorn-munisipaliteit wetstoepassing steun Davel se projek en glo met samewerking kan dit 'n moontlike oplossing wees vir die probleem wat tans in die dorp ondervind word.
Verantwoordelikheid
Davel het aan hul uitgewys dat hulle eintlik die ore en oë sal wees vir die polisie en wetstoepassing. Van die karwagte het aangedui dat hul werk 'n gevaarlike een is. "Ons word maklik aangerand, besteel en met messe gedreig of gesteek."
Beide partye het erken dat die feit dat dit gevaarlik is nie te betwis is nie.
"Samewerking in die geval gaan belangrik wees, julle werk gaan wees om seker te maak die straatkinders en rondlêers uit die strate kom, hier sal die polisie en wetstoepassing ook sigbaar wees."
Veral Hoogstraat is 'n wesenlike probleem met gereelde voorvalle van roof, diefstal, aanranding en onderonsies.
"Julle moet ook ophou om onder mekaar te baklei, ons weet mos wie dit is, so stop dit en werk eerder saam." Davel het ook uitgewys dat hulle nie moet voorgee hulle is verkeersbeamptes nie, "Julle staan nie in die straat en swaai julle hande rond om verkeer te beheer nie. Julle wys 'n parkeerplek aan en dit is dit. Hou jou blok skoon en insident vry en julle sal beloon word."
Uit die gesprek was dit duidelik dat beide partye 'n werkbare oplossing wil vind ten bate van alle inwoners en motoriste, asook om 'n verskil te maak in hul eie lewens.
Davel het egter aangedui dat hy heel eerste 'n ooreenkoms met die plaaslike landdros in plek wil kry waar karwagte wat aangekla word, wel vervolg sal word deur middel van gemeenskapsdiens.
"Tot ek hierdie in plek het kan die projek nie heeltemal afskop nie, ons wil seker maak dat enige persoon wat registreer as 'n karwag besef as hy of sy enige van die voorwaardes breek daar nagevolge sal wees.
Ten slotte noem Davel dat hy wel baie positief is oor die projek en glo dat dit vroeg in die nuwe jaar in werking gestel kan word.
Vorige artikels:
- Straatkinders, karwagte en prostitusie neem dorp oor
- Karwagte in Oudtshoorn onwettig
- Nuwe karwagte in Oudtshoorn
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’