OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn is 'n besige dorp met druk verkeer, en veral bestuurders wat altyd op soek is na veilige parkering. Die hele dorp is besaai met selfaangestelde karwagte wat vinnig is om parkering aan te dui en dan aandring op betaling. Somtyds raak hul ongeskik, opdringerig en selfs dreigend, veral teenoor vrouebestuurders wat sommer gevloek word.
Tydens 'n Gemeenskapspolisiëringsvergadering (GPF), Donderdag 26 September het dit aan die lig gekom dat slegs 11 karwagte in die dorp wettiglik aangestel is deur CWP (Community Work Programme), die res van die persone tree almal onwettig op en word motoriste aangeraai om geensins met hul in gesprek te tree of hul te betaal vir hul dienste nie. Die CWP-karwagte dra oranje oorpakke met die CWP logo daarop, asook 'n naamkaartjie wat hulle identifiseer. Ongelukkig kan niemand bevestig op die CWP-werkers steeds aangestel is of nie aangesien geen karwagte opgemerk word met oranje oorpakke nie.
Die selfaangestelde karwagte is 'n oorlas in die dorp en deur hulle te betaal word die probleem net aangewakker. Die kwessie is tydens die GPF-vergadering onder munisipale wetstoepassing se aandag gebring vir optrede aangesien hul volgens 'n munisipale bywet beboet kan word. Die wettige karwagte werk ook slegs deur die dag. Veral saans moet motoriste bedag wees op karwagte wat hul nader. Motoriste word gemaan om nie geld aan die persone te gee nie.
Munisipale terugvoer
Aurelia Mle, mediawoordvoerder van Oudtshoorn-munisipaliteit het by navraag geantwoord dat die munispaliteit nie bewus is van enige wettige karwagte in Oudtshoorn nie en dat hul eens is met die plaaslike polisie dat hulle almal self aangestel is.
Straatkinders
Buiten die onwettige karwagte is straatkinders wat in elke straat en selfs by winkels se deure bedel ook 'n kopseer, veral vir inwoners wat inkopies doen. Inwoners word aangeraai om geensins geld vir die kinders of enige bedelaars te gee nie, aangesien dit hulle net versterk in hul bedelry.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’