Update
OUDTSHOORN NUUS - Hy was bang die oom verkrag hom.
So het 'n jong man van Dysselsdorp, wat van moord op 'n bejaarde man aangekla word, verlede week in die Oudtshoorn-streekhof getuig.
Die saak teen Justin Baartman (22) is na die slotargumente van die staat en die verdediging vir uitspraak tot 23 Maart uitgestel.
Baartman erken dat hy Klaas Campher (63) die oggend van 23 Januarie 2020 in die veld naby Bokkraal verskeie kere met 'n klip gekap het om homself te verdedig.
Volgens hom het hy die oggend gaan hout soek toe hy die oorledene raakgeloop het waar hy onder 'n boom gesit het.
Campher het vir hom 'n sigaret gevra waarna hy hom glo Bells-brandewyn aangebied het.
Nadat hy klaar gedrink het wou die oorlede betaling hê. Toe hy vra hoe, omdat hy nie geld by hom gehad het nie, het die oorledene glo gesê met seks en sy broek probeer aftrek.
Toe hy weier het die oorledene met 'n klip aangeval waarna hy ook 'n groot klip opgetel het en hom daarmee gekap het.
Kapt. Marius Fourie van die De Rust-polisie het getuig dat Baartman die volgende dag 'n bekentenis afgelê het waarin hy sê dat hy die oorledene drie keer in die gesig en drie keer op sy kop gekap het.
Hy was baie dronk van die brandewyn omdat hy nie daaraan gewoond is nie en het glo "uitgepass".
Die polisie het hom daar aangetref waar hy en die oorledene op die grond gelê het.
Hendrik van Hansen, het getuig dat hy op die bakleiery afgekom en gesien het hoe Baartman die oorledene met 'n klip "so groot soos 'n sokkerbal" op sy kop kap.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het dit aan Baartman gestel dat hy moeg geword het omdat dit 'n baie groot klip was waarmee hy die oorledene gekap het.
Hy vra die hof vir skuldigbevinding aan moord terwyl sy regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, aanvoer dat hy slegs aan strafbare manslag skuldig bevind kan word indien hy die grense van selfverdediging oorskry het.
Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla.
Lees vorige artikels:
- Jong man vir moord op bejaarde in hof
- Plakkaatoptog na moord in Dysselsdorp
- 64-jarige met klip doodgeslaan
- Moord op Dysselsdorp
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'