Update
OUDTSHOORN NUUS - Inwoners van Rosebank het Maandag buitebande gebrand na 'n man, wat ook in Rosebank woon, na bewering 'n onwettige huiswinkel wou opslaan.
Volgens die eienaar van een van die huiswinkels mag net huiseienaars huiswinkels hê, maar is daar egter huiseienaars wat na bewering onderverhuur aan buitelanders.
"Dit maak die lewe vir ons wat 'n lewe op 'n wettige manier probeer bou, baie moeilik. Toe ek in 2014 aansoek gedoen het moes ek aan 'n klomp reëls en regulasies voldoen en dit blyk nie die geval vir almal te wees nie.
"Dit is onregverdig. Al wat ons wil hê is dat dieselfde reëls vir almal moet geld en dat almal onder dieselfde kam geskeer word. Ek gee glad nie om as daar nog winkels oopmaak nie, maar dan moet dit op die regte manier gebeur. Ek gun almal 'n inkomste, want ek weet hoe dit voel om swaar te kry."
Met Oudtshoorn Courant se besoek aan Rosebank Maandag het die persoon wat die winkel wou oopmaak dokumente gewys wat aan sy skoonma behoort het.
Volgens hom het sy skoonma jare die huiswinkel gehad en wou hy voortgaan met dit, maar op die perseel waar hy tans woon. Hy kon egter geen dokumente wys wat in sy naam is nie. Volgens hom sou hy registrasiedokumente van die munisipaliteit ontvang wat hy moes invul, maar kon hy dit nie aan die joernalis wys nie.
'n Navraag is aan die munisipaliteit gestuur oor hoe die proses om 'n huiswinkel te besit werk en of onderverhuring toegelaat word, maar dit is teen druktyd nog nie geantwoord nie.
Die struktuur van die nuwe huiswinkel wat in Rosebank opgerig word.
Vorige artikel: Inwoners ongelukkig oor huiswinkels
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'