OUDTSHOORN NUUS - Danksy die inisiatief van twee bekende en ervare koorafrigters is die Coro Gaudium-konsertkoor vir volwassenes twee maande gelede in Oudtshoorn gestig.
Die koor oefen reeds volstoom en het sy ontstaan te danke aan Retha van Zyl en Hannelie van Niekerk, wat albei jare se ondervinding in koorafrigting het.
Van Zyl, 'n welbekende musiekonder-wyseres van Oudtshoorn, rig Langenhoven Gimnasium se koor af, wat twee weke gelede saam met die Duitse seunskoor van Essen opgetree het. Sy rig ook Laerskool Wesbank se junior en senior kore af en is as stemgroepafrigter by die Suid-Kaap Kinderkoor betrokke.
Sy is in 2022 as direkteur van die Suid-Kaap Musiekakademie aangestel en is deel van die bestuurspanne van beide die Suid-Kaap Kinderkoor en Suid-Kaap Jeugkoor. Vroeër vanjaar het sy dié twee kore op hul toer na België en Duitsland as deel van die bestuurs- en organiseringspan vergesel.
Van Niekerk, eggenote van ds. Heerden van Niekerk van De Rust, was 23 jaar lank hoof van die musiekdepartement van Laerskool Totius in Bellville, waar sy die skool se senior koor vir 21 jaar afgerig het.
In 2024 het sy die afrigtingstaak aan Jade Paige oorgedra, maar steeds die koorbestuur, stemafrigting en begeleiding behartig. Die koor het verlede jaar 'n tweede plek in die ATKV-Applous-merieteafdeling behaal.
Sy het in 2024 die kultuurakademie by die skool gestig en bestuur.
Dit het onder meer lesse in drama, ballet, moderne dans, fotografie, ATKV-Tjokkertoneel, kuns, kleispeel en voorskoolse musiek ingesluit, asook onderrig in tromme, klavier, klawerbord, kitaar, blokfluit en viool.
Van Niekerk is 'n ervare klavieronder-wyseres wat al verskeie kere deur Unisa vir haar uitstekende klavier- en teorie-uitslae vereer is. Koorsang is egter ook 'n groot liefde.
Sy het onder meer in skoolkore, 'n universiteitskoor, die Sukovs-operakoor en die Carmina-dameskoor gesing.
Volgens Van Zyl en Van Niekerk is die ideaal om die koor tot 40 lede uit te brei. Mense wat voorheen in kore gesing het, asook dié wat dit vir die eerste keer wil probeer, is welkom om 'n oudisie af te lê, sê Van Niekerk.
"Die oudisie behels dat 'n stemnota of video ingestuur word waarin die eerste vers van 'Stille Nag' sonder begeleiding gesing word. Ons is veral op soek na manstemme. Retha doen moeite om sangers se stemme te ontwikkel. Jy hoef dus nie 'n gesoute koorsanger te wees nie. Jy moet net op jou noot kan bly," sê Van Niekerk.
Oefeninge vind Maandagaande van 18:00 tot 20:00 in die NG Moedergemeente Oudtshoorn plaas. Ledegeld beloop R300 per maand.
Navrae: Van Zyl by 082 894 4111, Van Niekerk by 084 497 9690, of stuur 'n e-pos aan [email protected].
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’