PRINS ALBERT NUUS - John Kramer se skilderye neem jou terug na ’n verdwene era toe ou geboutjies met kleurvolle voorkante ons dorpe en stede versier het.
So het dr. Judy Maguire, historikus en antropoloog van Prins Albert, gesê by die opening van Kramer se uitstalling met die titel, Streetscapes in die Prince Albert Gallery in Kerkstraat.
"As jy na John se skilderye kyk, ruik jy die stowwerige strate, ervaar jy die mengsel van geure in die skemer binnekante van die winkeltjies van die verlede."
Kramer (75) wat op Worcester gebore is het aan Oudtshoorn Courant gesê die vasvang van dié geboue op doek is deel van ons kollektiewe geheue, "argitektuur wat ons nie mag vergeet nie, van ’n tyd toe ons dorpe anders gelyk het as nou. Dis interessant dat ek die lekkerste onderwerpe vir my skilderye nog op plattelandse dorpe vind wat die verwaarloosste is, daardie geboutjies met geroeste sinkdakke en vervalle mure".
Hy reis reeds sedert die jare sewentig deur die land om sulke geboue af te neem.
Volgens Maguire is Kramer se skilderye "baie meer as net verf en doek" ."Dis ’n argief van ’n deel van die Suid-Afrikaanse argitektoniese nalatenskap. Dis ’n gemeenskapserfenis wat deel vorm van ons identiteit. Behalwe die nostalgie en herinneringe wat dit by ons opwek, kombineer John in sy kunswerke kleur, lig, tekstuur, patrone en struktuur om voorwerpe van estetika en betekenis te skep."
Destyds, elke keer wanneer Kramer teruggekeer het Worcester toe, huis toe, het hy opgemerk hoe vinnig sy dorp, en ander plattelandse dorpe, verander deur vernuwing. Hy het die strate met sy kamera begin vaslê, om te keer dat dit uit sy geheue verdwyn. Hy het sy stem as kunstenaar gevind in die fotorealisme van ou geboue, veral in die Karoo, maar ook die res van die Wes- en Oos-Kaap.
Dis die ryk en unieke kulturele verskeidenheid van Suid-Afrikaanse dorpies wat Kramer inspireer, "die outydse letterwerk teen die mure, met woorde soos Tea Room en Teekamer en Algemene Handelaar, handelsname soos Koffiehuis, Coca-Cola, Texan, Lucky Strike en Boxer Tobacco. Deesdae kry jy nie meer mure met tabakadvertensies nie", sê Maguire.
Kramer, wat in Kaapstad woon, het ook saam met sy broer, die musikant en sanger, David, na die platteland getoer om foto’s te neem wat as agtergrond sou dien vir die musiekblyspel Karoo Kitaar Blues.
Hý bewaar op doek, sê John. "Mense verlang na daardie plekke wat hulle as kinders besoek het of waar hulle gewoon het, plekke waarmee hulle ’n persoonlike verhouding het. Ook emigrante wat terugverlang Suid-Afrika toe, soek soms iets eie aan hul vaderland. Iemand wat nou in San Diego woon, het ’n skildery gesoek waarop Afrikaanse letterwerk is. ’n Australiër het my skildery van Alie’s Corner in die Waterkant gekoop toe sy die hoekkafee van haar jeug herken het. ‘Onthou’ was vir haar genoeg rede om dit aan te skaf."
Kramer se uitstalling duur tot 1 Augustus.
Alies Corner Store in Kaapstad
Valley Inn in Barrydale
'n Straattoneel in Calitzdorp.
'n Toneel in Beaufort-Wes.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'