OUDTSHOORN NUUS - Tydens die Oudtshoorn-sakekamer se netwerkaand in September is die sake-gemeenskap gevra om by 'n projek betrokke te raak om die APD-sentrum vir persone met gestremdhede op te knap.
Die opknapping word deur Pediatric Care Africa (PCA) gereël, wat hom vir minderbevoorregte kinders en volwassenes se mediese sorg beywer.
PCA het die netwerkaand geborg, en tydens die geleent-heid het die organisasie se stigter, dr. André Hattingh, die benarde situasie waarin APD tans verkeer, uiteengesit.
APD huisves tans 97 kinders en volwas-senes met gestremdhede by die sentrum in GG-Kamp langs die volstruisslagpale. Alhoewel die geboue stewig is, loop dit gereeld onder vandalisme deur en is daar 'n groot behoefte om dit te verf en kindervriendelik te maak.
Sommige dakplate moet vervang word, en die groot onderdak-gedeelte waar die volwassenes opleiding ontvang, moet van insulasie voorsien word, aangesien dit bitter koud in die winter en onuithoudbaar warm in die somer is.
Die administratiewe kantoor is tans 'n sinkgebou wat ook dringend geïnsuleer moet word. Die kinders word in klaskamers gehuisves en word ook daagliks van etes voorsien. Daar is 'n behoefte aan toerusting in die klaskamers en die kombuis.
"Ons moet onthou dat van daardie kinders en grootmense elke liewe dag in 'n rolstoel sit en teen 'n kaal muur vaskyk. Ons wil graag hul omgewing kleurvol en interessant maak. Om dit te kan doen het ons die gemeenskap se hulp nodig. Dit gaan hier nie net oor geld nie, maar ook oor skenking van materiaal en gewillige hande wat kan regmaak, verf en verfraai," sê Hattingh.
Die opknapping begin op Maandag 19 Oktober en duur tot 19 November. Volgens Hattingh sal elke borg wat 'n kamer aannneem erkenning ontvang, en die sakeonderneming se kenteken en naam sal aangebring word in die vertrek of op die gedeelte wat geborg is.
"Dit maak nie saak hoe klein of groot jou bydrae is nie - elke stukkie sal help om hierdie 97 mense se omgewing en lewenskwalieit te verbeter. Ons kan dit nie sonder jou doen nie," beklemtoon Hattingh.
Ondernemings, organisasies en individue wat betrokke wil raak, kan Joyce Cromp-voets by 076 229 5663 of Demorian Appolis by 081 086 1886 skakel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’