Update
OUDTSHOORN NUUS - Die slagoffer van die gru-ongeluk op 8 November op die kruising van Voortrekkerweg en Randstraat, Peter-John Sauls (24), is Saterdag 16 November na 'n lang diens van byna drie uur in die Bridgton Verenigende Gereformeerde Kerk, ter ruste gelê.
Die diens is na die groter VGK verskuif omdat die kerk waaraan Sauls behoort het te klein sou wees vir al die begrafnisgangers.
Sauls, 'n onderwyser aan die PJ Badenhorst Primêr in Dysselsdorp, het die aand van Vrydag 8 November tragies gesterf toe sy Volkswagen Golf op die kruising van Voortrekkerweg en Randstraat deur ‘n Audi A3 getref en heeltemal uitgebrand het.
Hy is deur evangelis Goliath ‘Gollie’ Samson met die hulp van 'n onbekende man uit die wrak van sy motor gehaal voordat die vlamme hom bereik het. Hy is kort daarna op die toneel deur paramedici dood verklaar.
Leerders van PJ Badenhorst, van sy kollegas, vriende en ouers het die diens bygewoon.
Die voorsitter van All Blacks-rugbyklub, die klub vir wie Sauls gespeel het, Damon Gysman, het Sauls in sy huldeblyk beskryf as 'n baie toegewyde en baie getroue speler met besondere leierseienskappe. Sy boesemvriend, Ronaldo Botha, het Sauls as 'n buitengewone mens beskryf.
Hy is volgens sy ma op sewe maande gebore, maar anders as ander vroeggebore babas het hy nie vir maande in 'n broeikas gelê nie.
"Die dokter het drie dae na sy geboorte vir haar gesê dat die kind huis toe kan gaan."
Volgens Botha het PJ baie noemname gehad.
"Hy was Pokkels, Poukie, Solla en vir ander 'ou Poks' en sal geweldig gemis word."
Die bestuurder van die Audi A3 is na die botsing op aanklag van strafbare manslag en bestuur onder die invloed van alkohol in hegtenis geneem. Sy is die volgende dag op waarskuwing vrygelaat en moet op 22 Januarie 2025 haar eerste verskyning in die hof maak.
Vorige artikels:
- Gemeenskap in rou oor geliefde onnie
- Troosdiens vir ongelukslagoffer gehou
- Troosdiens vir PJ Sauls beplan
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’