Gallery Update Video
OUDTSHOORN NUUS - Die operasie van meer as vyf ure verlede Vrydag om die laaste van nege klein hondjies uit 'n gat in die veld te haal, het 'n gelukkige einde.
Nie net het die laaste hondjie wat met 'n meganiese laaigraaf oopgegrou moes word, dadelik 'n baas gekry nie, die meeste van haar agt boeties en sussies het ook al huise.
Nina, soos sy nou genoem word, en die res van die werpsel is Vrydagoggend uit 'n aardvarkgat naby Spekkop gered.
Die eerste agt is gou-gou uitgehaal, maar Nina het al dieper weggekruip en 'n laaigraaf moes ingespan word om die toneel waar sy weggekruip het, oop te grou.
Fotogalery: Baba hondjies uit aardvarkgat gered
Volgens Vanessa Engelbrecht, voorsitter van Animal Care Team SA, is al die hondjies Vrydagmiddag na Glen Carlisle, die plaaslike veearts, geneem.
"Hulle is almal gesond. Hulle is gebad, het inentings en genoeg kos gekry. Ons het streng voorwaardes gehad vir aanneming en huisbesoeke is gedoen voor hulle huise gekry het."
Kyk 'n video hieronder:
Mornay Thysse, slangvanger en lid van die brandweer, en sy vrou, Lucinda, het die tefie wat hulle na 'n vyf uur reddingspoging uit die gat gehaal het aangeneem en haar Nina gedoop. Volgens hom gaan dit baie goed met haar en word sy vreeslik baie bederf.
"Sy het twee sussies en hulle kom mooi oor die weg."
Engelbrecht het aan Oudtshoorn Courant vertel dat Werner Meyer en sy vrou, Adel, Vrydagoggend vroeg, tydens 'n oggenduitstappie, die hondjies gewaar het.
"Ons en Magda Davel en Ryno April van die munisipale skut, het gaan ondersoek instel en die hondjies naby die gat gekry. Ons het sommer vinnig agt van die nege babahondjies gevang, maar een van die hondjies het dieper in die gat ingekruip. Die Oudtshoorn-brandweer het ook ingespring en gehelp."
Toe Oudtshoorn Courant op die toneel kom het Clayton Awries en Chruzane Blaauw, lede van die Oudtshoorn-brandweer, die gat met grawe en 'n blikkie dieper probeer grawe en selfs in die tonnels geklim, maar hoe meer hulle gegrou het, hoe dieper het die tefie onder die grond verdwyn.
Daniël Smuts van Oudtshoorn Plant Hire het hulle meganiese laaigraaf beskikbaar gestel om dieper te grawe en net voor 14:00 Vrydagmiddag kon Thysse en Blaauw die tefie uit die gat uit haal.
Die laaigraaf het die gate weer toegestoot sodat daar nie weer honde kan inklim nie. Thysse het kort na die reddingspoging laat weet dat hy die hondjie aanneem en lede van die publiek het ook vinnig reageer om die res van die werpsel aan te neem.
Mornay Thysse en Chruzane Blaauw kort na Nina opgespoor is nadat 'n meganiese laaigraaf ingespan is om die tonnel waarin sy was oop te grou.
Die eerste agt hondjies kort nadat hulle gered is.
Nina by haar nuwe huis.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'