OUDTHOORN NUUS - Kunste Onbeperk wat die Klein Karoo Nasionale Fees aanbied, het in die boekjaar tot Junie vanjaar ‘n verlies van R1,7 miljoen van die vorige boekjaar omskep in 'n wins van R1,72 miljoen wat dit moontlik maak om gedeeltelik van die impak wat die wesenlike verlies van 2023 op die maatskappy gehad het te herstel. So het Mariné van Brakel verlede Vrydag tydens die algemene jaarvergadering van Kunste Onbeperk by die Neelsie gesê.
Die wins het volgens Van Brakel danksy sinvolle en doeltreffende besteding deur die bestuurspan sowel as 'n effense toename in bydraes van vennote en uitsonderlike simbiose met die kunstebedryf om beleggings vir inhoud, en uiteindelik die skep van werk en bydrae tot die volhoubaarheid van die kunstebedryf te fasiliteer.
Kunste Onbeperk het vir die 2024-fees altesaam R11.9 miljoen aan kunstenaars betaal, meer as R1 miljoen aan tegniese personeel en bykomende werk geskep vir hoofsaaklik Oudtshoorniete ter waarde van R4,62 miljoen.
Met 'n beraamde jaarlikse ekonomiese Impak op Oudtshoorn van ten minste tussen R72 miljoen en R89 miljoen bly die KKNK steeds die grootste ekonomiese stimulasie vir die dorp.
Die KKNK is verder 'n sleutelbydraer en aktiewe rolspeler in plaaslike ekonomie en toerisme met 'n beraamde jaarlikse ekonomiese impak van tussen R161 miljoen en R178 miljoen in die Wes-Kaap.
"Die KKNK is ‘n reuse en onmeetbare impak op Oudtshoorn weens spandering van borge, kunstenaars, vennote, feesgangers en die KKNK self, wat informele besigheid en werkskepping bevorder."
Verblyfbeprekings, spandering by restaurante, winkels en ander besighede word onder andere by hierdie onmeetbare ekonomiese inspuiting ingesluit.
Vorige artikels:
- Kunste onbeperk kondig nuwe voorsitter aan
- Bekroonde kunstenaar nuwe KKNK Kurator
- Visie agter Tuinroete Kunste- en Kultuurnetwerk aan rolspelers verduidelik
- Kunste en kultuurnetwerk op pad
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’