OUDTSHOORN NUUS - Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees het Woensdag 18 September 'n Tuinroete kunste- en kultuurnetwerk by Queen’s Hotel by BON Hotels (Oudtshoorn) aangebied waar Hugo Theart die fees se visie met belanghebbendes gedeel het. Die eerste netwerksessie in die Tuinroete deur die KKNK is verlede jaar in Oudtshoorn en in George aangebied en gefasiliteer.
Heelwat inligting is gedeel, maar een ding is seker, inwoners en sakelui kan verseker wees dat die KKNK wel in Oudtshoorn sal bly. Die fokus gaan effe skuif om kuns, kultuur en sport oor die hele Tuinroete by die fees te inkorporeer.
"Hierdie is die grootste kulturele geleentheid in die Tuinroete, en is dit nodig dat soveel moontlik mense inkoop in die kunste- en kultuurnetwerk."
Theart het verder beklemtoon dat die netwerk van rolspelers belangrik is aangesien hier ongelooflike dinge in die Tuinroete gebeur, wat ook 'n belangrike rol in die bevordering van toerisme speel."
Theart het verduidelik dat die KKNK-fees slegs die kultuurnetwerk fasiliteer, en dat die netwerk oor meer as die KKNK handel.
Die Tuinroete kunste- en kultuurnetwerk se doel is om 'n sleutelrol te speel in kommunikasie oor kunste- en kultuuraktiwiteite in die streek, waaronder die KKNK (en ander projekte wat regdeur die jaar aangebied word), vir en met belangegroepe en rolspelers in die groter Tuinroete-distrik.
Die KKNK sal volgende jaar van 1 tot 8 April plaasvind. Theart vra inwoners, rolspelers en sakelui om voorstelle in te dien rakende aanstaande jaar se fees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’