OUDTSHOORN NUUS - Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees bied op Woensdag 18 September om 17:30 'n Tuinroete kunste- en kultuurnetwerk by Queen’s Hotel by BON Hotels (Oudtshoorn) aan.
Die eerste netwerksessie in die Tuinroete deur die KKNK is verlede jaar in Oudtshoorn en in George aangebied en gefasiliteer.
Uit terugvoer van beide sessies was dit duidelik dat die behoefte uit die streek nie so seer is vir die totstandkoming van ’n distrikskomitee nie, maar eerder ’n netwerk waar wedersydse gesprekvoering met die streek, gefokus op die kunste, kultuur en kreatiwiteit, plaasvind.
Die Tuinroete kunste- en kultuurnetwerk se doel is om ’n sleutelrol te speel in kommunikasie oor kunste- en kultuuraktiwiteite in die streek, waaronder die KKNK (en ander projekte wat regdeur die jaar aangebied word), vir en met belangegroepe en rolspelers in die groter Tuinroete-distrik. Dit is ’n platform vir gesprekvoering met ’n fokus op die kunste. Belangrike fokusareas van dié netwerk is ontwikkeling en uitbreiding van kuns en kultuur in die streek, asook bemarking van die streek as bestemming vir toerisme. Alle rolspelers waaronder besighede, belanghebbendes en meningsvormers in die kunste, toerisme en verwante sektore, word genooi om deel van die Tuinroete kunste- en kultuurnetwerk te word. Deelname en bywoning is gratis.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’