OUDTSHOORN NUUS - Die berig van gister oor die kwessie rondom die verpligte verlof van die munisipale bestuurder, Allen Paulse, is vanoggend hersien nadat raadslid Johan Fourie aangedui het dat die besluit nie eenparig was nie.
Volgens sy verduideliking het drie raadslede tydens stemming buite stemming gebly.
By navraag is die Oudtshoorn Courant vanoggend van Raadsresolusie 63.37/01/20 voorsien waarin dit duidelik gestel word dat die besluit eenparig was.
‘n Ander DA raadslid het lig op die saak gewerp. Volgens haar het Johan Fourie, Julia le Roux en George Kersop tydens die DA se koukusvergadering voor die raadsbesluit, gesê hulle ondersteun nie die voorstel om die munisipale bestuurder met verlof te stuur terwyl klagtes teen hom ondersoek word nie.
Nadat die voorstel egter in die raadsaal deur raadslid G Juthe (Sarco) ter tafel gelê is en deur raadslid Vlancio Donson (Icosa) gesekondeer is, was daar geen stemme teen die voorstel nie en geen raadslede het aangedui dat hulle buite stemming bly nie en is die voorstel dus amptelik as eenparig aanvaar en so aangeteken.
Die Oudtshoorn Courant se berig van gister dat die raadsbesluit eenparig was, was dus korrek en daar word daarby volstaan.
Vorige artikels:
Verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'