Update
OUDTSHOORN NUUS - Die DA se tugverhoor van Oudtshoorn-burgemeester, Colan Sylvester, het hierdie week begin, maar dis hoogs onwaarskynlik dat dit vandag afgehandel sal word.
Die DA het reeds verlede jaar elf klagtes aan die burgemeester voorgelê en die verhoor, wat voor Desember sou begin het, het uiteindelik Maandag in die Queen's Hotel begin.
Die dorp het hierdie week gegis oor 'n skikkingsooreenkoms wat glo Maandag op die tafel was.
Volgens berigte op sosiale media het die DA aangebied om klagtes teen die burgemeester te laat vaar indien hy op sy beurt klagtes wat hy teen die munisipale bestuurder, Allen Paulse, gelê het, terugtrek. Volgens die berigte het Sylvester die ooreenkoms van die hand gewys.
Die aantyging is egter volgens 'n persoon binne DA-kringe onwaar en is daar 'n ander kant van die munt.
Dié persoon beweer die ooreenkoms was andersom en dat die burgemeester aangebied het om sy klagtes teen Paulse te laat vaar in ruil daarvoor dat die klagtes teen hom teruggetrek word.
Die bron sê die DA het Sylvester se voorstel verwerp. 'n Navraag aan die burgemeester was teen gister (23 Januarie) steeds onbeantwoord.
Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, het Dinsdag gesê die regsproses binne die DA moet heeltemal onafhanklik van politieke prosesse staan.
"Tot dusver het ek geen inligting nie. Ek sal dit net bekom deur die loop van die proses wanneer die saak FedEx (DA se federale uitvoerende komitee) toe kom."
Intussen is daar sedert Maandag 'n groepie plakkaatswaaiers, sommige van hulle DA-lede, buite die Queen's Hotel byeen om hulle ondersteuning aan die burgemeester te toon.
Lees 'n vorige artikel: Burgemeester se DA-verhoor begin
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'