OUDTSHOORN NUUS - Dysselsdorp Sekondêr buite Oudtshoorn, is een van die skole wat deur die Wes-Kaapse departement van onderwys geoormerk is vir drie nuwe vaardigheidsklasse.
Die klasse sal in Januarie 2026 vir leerders beskikbaar wees wat die vaardigheids-kurrikulum wil volg. In gesprek met die skoolhoof, Marius Wagenaar, is hulle opgewonde oor die beplande toevoeging by die skool.
Die skool het reeds 'n vaardigheidsklas wat hierdie jaar amptelik in gebruik geneem is.
"Ons volg die vaardigheidskurrikulum en gaan ook twee ekstra personeellede kry. Verbruikerstudies is een van die vaardigheidsvakke."
Volgens Wagenaar het hulle 'n groot aanvraag vir die klasse in Dysselsdorp en vind die klas wat hul reeds het, groot aanklank by leerders.
Daar is tans 28 vaardigheidskole in die Wes-Kaap. Die jongste syfers dui op 'n 8,8% styging in leerlinge se belangstelling in tegniese en beroepsonderrig en -opleiding (TVET)-vakke. Verder neem 10 717 leerlinge deel aan skool vaardigheidsprogramme, wat 'n toename van 174 verteenwoordig.
Hierdie kurrikulum bied leerlinge praktiese, beroepsgerigte opleiding wat hulle beter voorberei vir die arbeidsmark, verdere studies en selfs entrepreneurskap.
Dit skep 'n alternatief vir leerders wat nie altyd in 'n tradisionele akademiese kurrikulum floreer nie, en help om vaardigheidstekorte in sleutelbedrywe aan te spreek, leerderbetrokkenheid te verbeter en uitvalsyfers te verminder.
Leon van Wyk, DA-woordvoerder vir die departement van onderwys in die Wes-Kaap, noem dat deur die skool se vaardigheidskurrikulum uit te brei word meer jongmense toegerus met tegniese, landbou- en praktiese vaardighede wat deure oopmaak vir die jongmense in entrepreneurskap, asook verdere opleiding.
"Gegewe die hoë aanvraag na beroeps-gerigte opleiding, brei die Wes-Kaapse departement van onderwys (WCED) toegang verder uit, nie net deur nuwe fasiliteite te vestig nie, maar ook deur Skool-van-Vaardighede-kurrikulum by bestaande openbare skole in te voer.
Hierdie uitbreiding ondersteun die provinsie se ekonomiese ontwikkelings-doelwitte deur onderwys met die behoeftes van die arbeidsmark te belyn, terwyl dit leerlinge meer geleenthede bied om hul talente te ontwikkel en betekenisvolle werk te bekom.
"Om sterk onderwys-tot-indiensneming-weë te skep, bly 'n DA-prioriteit in die Wes-Kaap. Deur die Skool-van-Vaardighede-kurrikulum te verbreed, gee ons ons jeug die gereedskap om uitdagende omstandighede te oorkom en beter toekomsmoontlikhede te bou."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’