Update
OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn-polisie wag nog op die dossier waarvolgens die bestuurder van die motor waarin Marilize Nortier verlede jaar dood is, aangekla word.
Die DOV het op 18 September kennis gegee dat die man wat agter die stuur van 'n wit BMW was toe dit op 22 September in 'n waterkanaal beland het, van strafbare manslag, alternatiewelik roekelose en nalatige bestuur aangekla gaan word.
Marilize Nortier, wat verlede jaar in matriek was, was 'n passasier in die motor en is op die toneel dood.
'n Nadoodse ondersoek het bevind dat sy nog gelewe het na die ongeluk, maar in die kanaal se water verdrink het omdat die motor op die passasierskant in die kanaal beland het en haar kop onder die water was.
Die bestuurder het die toneel verlaat en glo nie geweet dat daar nog iemand in die motor was nie.
Hy word ook volgens die Padverkeerswet aangekla dat hy die toneel van 'n ongeluk verlaat het sonder om hulp te verleen.
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het verlede week bevestig dat die man gedagvaar sal word sodra die dossier vanaf die DOV ontvang is. Teen gister was die dossier nog nie op Oudtshoorn nie.
Vorige artikels:
- DOV vervolg na 'n jaar
- Bestuurder word uiteindelik vervolg
- Troosdiens vir botsingslagoffer
- Jong botsingslagoffer het verdrink
- Vroeë oggend grotte-pad ongeluk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'