OUDTSHOORN NUUS - Vlak 2-waterbeperkings is nog nie in Oudtshoorn ingestel nie, maar word wel ernstig bespreek.
So bevestig Christo Vermaak, woordvoerder van die burgemeester se kantoor.
Volgens Vermaak het die Raubenheimer-dam se watervlak sedert verlede week met ongeveer 3% gedaal en staan dit tans op 66,75%.
Inwoners het die afgelope week talle navrae gerig oor die herstel van gebarste pype, asook hoe die munisipaliteit watergebruik by inwoners reguleer.
Hy verduidelik dat gebarste pype toenemend weens onreëlmatige water-toevoer voorkom.
"Die munisipaliteit se beleid is om so spoedig moontlik aandag te skenk aan alle klagtes oor waterlekke en gebarste pype.
Inwoners word versoek om alle voorvalle so gou moontlik by die munisipale beheerkamer by 044 203 3000 aan te meld," sê Vermaak.
"Enige persoon wat bewus is van water-vermorsing, insluitend watergebruik buite toegelate tye of krane wat onnodig oopgelaat word, moet dit onmiddellik rapporteer. Hierdie inligting stel die munisipaliteit in staat om vinnig op te tree en verdere vermorsing te voorkom."
Volgens Vermaak bly De Rust egter 'n bron van kommer, aangesien sommige inwoners steeds nie by die vlak 6-waterbe-perkings hou nie. "Water word daagliks na De Rust en ander geaffekteerde gebiede aangery.
"Watergebruik sal dringend en onmiddellik verminder moet word om die instelling van beurtwater te voorkom."
Die munisipaliteit se wetstoepassings-afdeling is versoek om meer roetine-inspeksies uit te voer, met boetes van R5 000 wat opgelê kan word vir die oor-treding van waterbeperkings.
Vorige berigte:
- Damvlakke daal steeds
- Warm in Karoo, waterbronne geraak
- Waterkrisis in Kannaland
- Min reen voorspel watertekort in streek
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’