OUDTSHOORN NUUS - Die watervlak van die Raubenheimerdam is vanoggend, Maandag 19 Januarie 2026, op 66,75% gemeet.
Oudtshoorn se gemiddelde watergebruik oor die afgelope week was een persentasiepunt hoër as die vorige week en is op 19,6 Ml per dag bereken.
Slegs 1 mm reënval is gedurende die afgelope week in die Raubenheimerdam se opvangsgebied aangeteken.
Die geskeduleerde waterloslatings vir oewereienaars vanuit die Raubenheimerdam het in Desember begin en duur tot einde Februarie 2026 voort. Hierdie loslatings sal daartoe bydra dat die damvlak vinniger daal as onder normale omstandighede.
Dysselsdorp
Wateronttrekkings uit boorgate geskied tans volgens aanbevole onttrekkingsvolumes en die boorgatwatervlakke is stabiel. Die beskikbare waterlewering en huidige verbruik is egter bykans gelyk, wat beteken dat waterverbruik noodwendig verder verminder sal moet word.
Inwoners van Dysselsdorp en die Klein Karoo Landelike Watervoorsieningskema (KKLWVS) word herinner dat streng vlak 6-waterbeperkings van krag is. Watertenkers word, waar nodig, veral in hoogliggende dele van Dysselsdorp aangewend.
Die Huisrivier se vloei is tans uiters swak. Wateraanvulling geskied vir ’n gedeelte van die dag vanuit die Klein Karoo Landelike Watervoorsieningskema, terwyl twee watertenkers ook gebruik word om water aan inwoners te lewer.
Die lewering van water aan De Rust vanuit die KKLWVS plaas egter beduidende druk op die beskikbare watervoorrade vir beide Dysselsdorp en die skema self. Inwoners van De Rust word derhalwe ook herinner dat streng vlak 6-waterbeperkings geld.
Vorige berigte:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’