Update
OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen Enver Campher, die man wat na bewering die ma van sy kind vir twee dae toegesluit, gemartel en ernstig aangerand het, is verlede Donderdag in die Oudtshoorn-streekhof vir verdere getuienis tot Meimaand uitgestel.
Campher word van poging tot moord aangekla. Hy het na bewering vir Natasha Mei (31) 'n ma van drie kinders waarvan hy die jongste se pa is, in die huis van sy suster in Bongolethu aangehou en ernstig aangerand.
Gemeenskapslede het die huis se deur oopgebreek en Mei bebloed en nakend op 'n bed aangetref.
Haar moeder, Fytjie Mei, het op die eerste dag van die verhoor getuig dat haar dogter verskeie operasies moes ondergaan en tans in 'n rolstoel oor die weg moet kom.
"Sy kan met ons gesels, maar kan glad nie onthou wat met haar gedurende die dae wat sy aangehou is gebeur het nie," het Mei getuig.
Die getuie het by tye onseker voorgekom omdat die hofverrigtinge in Engels geskied en 'n tolk die vrae van die aanklaer, Willem Vister, en die prokureur van die beskuldigde, Eugene Roos van die regshulpraad, in Afrikaans moes vertolk.
Sy het meer as een keer gevra dat die tolk die vraag moet herhaal.
Die saak word deur streeklanddros Retha Pretorius aangehoor en is vir verdere getuienis, onder meer van die ondersoekbeampte, ao Martin le Roux, tot 11 Mei uitgestel.
Campher bly in aanhouding.
Hooflanddros Jaco Lambrechts het by navraag van die Oudtshoorn Courant gesê die saak word in Engels aangehoor omdat Roos glo opdrag van die regshulpraad gekry het om alle sake voortaan in Engels te doen.
Lees vorige artikels:
- Campher se verhoor in Mei voortgesit
- Saak teen Enver Campher na streekhof
- Suster van Enver Campher praat uit
- Opvolg: vrou gemartel en aangerand
- Opvolg: vrou aangerand en gemartel
- Poging tot moord-klag uitgestel
- Vrou vir dae gemartel en aangerand
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'