Update
OUDTSHOORN NUUS - Toestemming om sy pleit van skuldig na onskuldig te verander is verlede Donderdag in die Oudtshoorn-landdroshof verleen aan die adjunkbalju van Oudtshoorn wat van bedrog, vervalsing en meineed aangekla word.
Landdros Roelf Konstabel het in sy uitspraak gesê die hof moet versigtig wees om nie ‘n presedent te skep nie maar is van mening dat dit in belang van geregtigheid is om toestemming aan die beskuldigde, Louwayne Wagenaar, te verleen om sy wens uit te voer.
Hy het in ag geneem dat Wagenaar op die nippertjie op versoek van sy dogter en vrou en advies van sy vorige regsverteenwoordiger, adv. Benito Metembo, skuldig gepleit het sodat die saak afgehandel kan word terwyl hy self seker is dat hy onskuldig is.
Die staatsaanklaer, Lisa Cremer, het die aansoek teengestaan omdat Wagenaar byna ‘n jaar tyd gehad het om oor sy keuse te besin.
Volgens haar is hy deur ‘n bekwame advokaat verteenwoordig.
Wagenaar se regsverteenwoordiger, Clyde Avontuur, het die hof meegedeel dat hy erg emosioneel is en sy gemoedstoestand nie goed was toe hy skuldig gepleit het nie. Hy was ook onder die indruk gebring dat hy ‘n opgeskorte vonnis opgelê sal word.
Die landdros het beklemtoon dat Wagenaar as voormalige polisieman ondervinding gehad het van kriminele geregtigheid. Hy het dan ook, voordat hy skuldig gepleit het, bevestig dat hy die klagtes teen hom verstaan en nie gedwing is om skuldig te pleit nie.
Volgens die landdros moet die hof versigtig wees met aansoeke soos die omdat dit ‘n krisis in die howe tot gevolg kan hê. Die onttrekking van ‘n pleit is nie ‘n reg nie.
Wagenaar het aanvanklik skuldig gepleit op al twaalf aanklagte teen hom en is so skuldig bevind.
Die saak is Vrydag vir ‘n verhoordatum uitgestel.
Lees vorige artikels hier:
- Adjunkbalju se saak uitgestel
- Adjunkbalju wil nou onskuldig pleit
- Adjunk-Balju wil nou onskuldig pleit
- Balju's in November gevonnis
- Adjunkbalju's verskyn in hof
- 4 adjunkbalju's aangekla van bedrog
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'