OUDTSHOORN NUUS - Vier adjunkbalju's van Oudtshoorn het Woensdag hul eerste verskyning in die Oudtshoorn-landdroshof gehad nadat hulle van bedrog, vervalsing en meineed aangekla is.
Die balju's, Deswill Buys, Louwayne Clinton Wagenaar, Nigel Cupido en Daniel Wagenaar, word deur adv. Benito Metembo verteenwoordig. Hy tree in opdrag van Johan Duvenhage op.
Hulle het apart voorgekom en die landdroste het die sake tot 11 Augustus uitgestel.
Die Oudtshoorn Courant het verlede maand berig die klagtes spruit voort uit voorvalle waar die vier na bewering verskeie dagvaardings afgelewer het, maar dit nie persoonlik aan die betrokke persone, soos wat vereis word, beteken het nie. Die klagtes is reeds in November en Desember 2016 gelê.
Volgens die inligting wat bekom is blyk dit dat dagvaardings wat afgelewer word wederregtelik op die volgende wyses gedoen word:
Die dagvaarding word by enigiemand by die adres afgelewer en die handtekening van die persoon wat dit moes ontvang, word vervals.
'n Derde party teken wel vir die dagvaarding (byvoorbeeld 'n huishulp of sekerheidswag), maar die handtekening word dan voorgehou as dié van die persoon wat die dokument regmatig moes ontvang.
In gevalle waar die persoon, teen wie die dagvaarding uitgereik is, weier om daarvoor te teken moet die balju 'n beëdigde verklaring aflê waarin dit bevestig word.
Dit het aan die lig gekom dat sulke beëdigde verklarings glo afgelê word sonder dat daar met die betrokke persone gepraat is en sonder dat hulle die geleentheid gegun is om daarvoor te teken.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'