Update
OUDTSHOORN NUUS - Verlof om teen sy skuldigbevinding te appelleer is Woensdag in die Oudtshoorn-streekhof aan 'n assistent superintendent van die Oudtshoorn-munisipaliteit, Frikkie van Staden (55), toegestaan.
Van Staden is skuldig bevind aan twee aanklagte van korrupsie en een van bedrog.
"Korrupsie en bedrog is ernstige misdade wat die land se ekonomie lamlê en kom dikwels in munisipaliteite voor. Dit het 'n ernstige effek op dienslewering en die hof het 'n plig teenoor die beskuldigde sowel as die gemeenskap. En in dié saak was daar 'n mate van beplanning en nie 'n eenmalige voorval nie. Die beskuldigde was in 'n vertrouensposisie en toon geen berou nie."
So het streeklanddros Neels Nortjé gesê toe hy Van Staden effektief tot vier jaar gevangenisstraf gevonnis het.
Van Staden, wat verantwoordelik was vir die instandhouding van paaie, is daaraan skuldig bevind dat hy tussen Maart 2011 en Julie 2014 die Oudtshoorn-munisipaliteit onregmatig beïnvloed het om werk aan 'n beslote korporasie, Kamvelihe General Trading, wat in die naam van sy skoonsuster, Frances Booysen, geregistreer was, te verskaf.
Altesaam 109 fakture ten bedrae van byna R2 miljoen is aan Kamvelihe betaal. Die geld is in Booysen se bankrekening inbetaal wat dit dan na elke inbetaling onttrek het en aan Van Staden oorhandig het. Daarvoor het sy dan gereeld tussen R500 en R1 000 van Van Staden ontvang vir die gebruik van haar rekening en besigheidsnaam.
Die klagte van bedrog handel oor die feit dat Van Staden die munisipaliteit beweeg het om die dienste van die korporasie te gebruik en die geld aan die beslote korporasie betaal het terwyl, in werklikheid, die beskuldigde saam met Booysen geweet het dat hy self die dienste verskaf en betaling tot sy eie voordeel ontvang het.
Nortjé het met vonnisoplegging gesê dat hy die aanbeveling van 'n korrektiewe beampte vir 'n vonnis van korrektiewe toesig sterk oorweeg het, maar bevind dat dit nie 'n gepaste vonnis sal wees vir die ernstige misdrywe waaraan Van Staden skuldig bevind is nie.
Hy het Van Staden se weergawe, dat hy nie aanvanklik daarvan bewus was dat die korporasie aan sy skoonsuster behoort het nie, verwerp.
Van Staden is sewe jaar tronkstraf opgelê op die aanklag van korrupsie waarvan drie jaar opgeskort is. Voorts is hy tot twee jaar gevangenisstraf gevonnis vir die oortreding van die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad wat samelopend met die eerste vonnis uitgedien kan word, en vyf jaar vir bedrog wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is. Hy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
Borgtog van R3 000 is aan hom toegestaan hangende die uitslag van sy appel. Corné Pretorius het vir die staat en Gideon Badenhorst vir die beskuldigde verskyn.
Vorige artikels:
- Munisipale amptenaar vas vir bedrog
- Fraud: Municipal official found guilty
- Voormalige amptenaar skuldig aan korrupsie en bedrog
- Verhoor van amptenaar uitgestel tot 2019
- Valke gryp senior munisipale amptenaar
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'