OUDTSHOORN NUUS - 'n Voormalige assistent superintendent van die Oudtshoorn-munisipaliteit is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof op twee aanklagte van korrupsie en een van bedrog skuldig bevind.
Vonnisoplegging is tot volgende maand uitgestel.
Frikkie van Staden (53), wat verantwoordelik was vir onder andere die instandhouding van paaie, is daaraan skuldig bevind dat hy tussen Maart 2011 en Julie 2014 die Oudtshoorn-munisipaliteit onregmatig beïnvloed het om werk aan 'n beslote korporasie, Kamvelihe General Trading, wat aan sy skoonsuster, Frances Booysen, behoort het, te verskaf.
Altesaam 109 fakture van byna R2 miljoen is aan Kamvelihe betaal. Die geld is in Booysen se bankrekening inbetaal wat dit dan onttrek het en aan Van Staden oorhandig het. Daarvoor het sy tussen R500 en R1 000 van Van Staden ontvang vir die gebruik van haar rekening en besigheidsnaam.
Die klag van bedrog handel oor die feit dat Van Staden wederregtelik, onwettig, valslik en met die opset om te bedrieg voorgegee het dat die dienste van Kamvelihe gelewer is deur 'n entiteit wat geen verbintenis het met 'n werknemer van die munisipaliteit nie.
Kamvelihe is dus slegs in naam gebruik en die bedrag van R1 980 800 is eintlik aan Van Staden betaal wat self die dienste verrig het.
Streeklanddros Neels Nortjé, het Van Staden se weergawe, dat hy nie aanvanklik bewus daarvan was dat die beslote korporasie aan sy skoonsuster behoort het nie, as vals verwerp. Corné Pretorius verskyn vir die staat en Gideon Badenhorst vir die beskuldigde.
Die saak is vir vonnisverrigtinge tot 29 Maart uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'