Update
OUDTSHOORN NUUS - Die borgtogaansoek van die twee verdagtes wat uiteindelik vir die moord op 'n matriekseun van Oudtshoorn in Julie 2018, in hegtenis geneem is, is Maandag in die Oudtshoorn-landdroshof tot gister uitgestel. Die aansoek is egter weer na Maandag uitgestel.
Die 19-jarige Angelo Manewille is op Saterdag 28 Julie 2018 wreed in Springbokweg, Bridgton, vermoor.
Die twee verdagtes, Richard Manel (39) en Shaun Nagel (39), het Maandag aangedui dat hulle onskuldig gaan pleit.
Ao. Piet Hendricks, die ondersoekbeampte, het vir die staat getuig en borgtog teengestaan. Volgens hom het Nagel vir Manewille die dag van die moord voor die bors gegryp omdat hy na bewering iemand van sy selfoon beroof het. Manel het toe van agter gekom en hom eers in die rug en daarna in die nek gesteek.
Die oorledene het geval waarna Nagel hom geskop en getrap het.
Manel is kort na die voorval in hegtenis geneem, maar 'n dag later weens 'n gebrek aan getuienis vrygelaat.
Hendricks het voorts getuig dat hy die ondersoek in Oktober verlede jaar oorgeneem het en sedertdien verklarings van tien ooggetuies afgeneem het.
Hy het borgtog teengestaan uit vrees dat Nagel, wat oorspronklik van Pretoria kom, moontlik kan vlug en Manel staatsgetuies kan intimideer. Hy het ook 'n versoekskrif met 71 handtekeninge oorhandig waarin versoek word dat die twee verdagtes in aanhouding bly.
Volgens Hendricks is Manel in 2016 'n opgeskorte vonnis opgelê vir aanranding van sy meisie se stiefpa. Die vonnis het nog oor sy kop gehang ten tyde van die beweerde moord.
Antoinette Manewille (derde van links), ma van die vermoorde Angelo Manewille, Maandagoggend met 'n versoekskrif teen borgtog voor die Oudtshoorn-landdroshof saam met familie en vriende. Foto: Garnett Wicomb.
Manel het getuig dat hy om borgtog aansoek wil doen omdat hy vir sy kind wil gaan werk. Hy kan R1 000 borgtog betaal en beskik ook oor 'n alternatiewe adres ver van die getuies.
Nagel het getuig dat hy nie die getuies ken nie. Hy beskik oor R500 vir borgtog en hy wil vir sy twee kinders gaan werk. Hy het in 2014 vanaf Eersterus, Pretoria na Oudtshoorn gekom en die ma van sy kinders ontmoet.
Die aansoek dien voor landdros Roelf Konstabel.
Leonie van Rooyen is die aanklaer en Telicia Piedt van Coetzee en Van der Bergh Ingelyf verskyn namens die twee verdagtes.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'