Update
LADISMITH NUUS - 'n 16-jarige is vir die moord op Shintino van Wyngaardt (7) in hegtenis geneem.
Van Wyngaardt se verkoolde liggaam is verlede week in 'n vlak graf in die Hoeko-omgewing gevind.
Hy is op 4 April deur sy ma, Shanique, as vermis aangemeld nadat hy glo by sy pa gaan slaap het.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die stasiebevelvoerder van die Ladismith-polisiestasie, lt.kol. Pauline Kriel, dat hulle 'n span saamgestel het wat die saak twee dae lank ondersoek het.
"Daar is deurgaans ondersoekwerk gedoen. Verskeie verklarings en genoeg bewysstukke is bekom en dit het tot die arrestasie van die 16-jarige gelei. Die seun moet deur 'n maatskaplike werker geassesseer word."
Omdat hy minderjarig is, mag sy naam nie bekendgemaak word nie. Hy het reeds in die Ladismith-landdroshof verskyn.
Volgens betroubare bronne is Shintino by 'n dam met 'n harde voorwerp aangerand en toe verder die veld ingedra.
Die bron het verder gesê dat daar toe 'n vlambare vloeistof oor Shintino gegooi is en hy is aan die brand gesteek.
Shintino is daarna in 'n vlak graf begrawe. Die verdagte gaan na bewering nie meer skool nie. Hy is tans by Huis Outeniqua in George. Kapt. Malcolm Pojie het die arrestasie bevestig.
Shanique het kort na haar seun se liggaam gevind is aan Oudtshoorn Courant gesê sy is verpletter oor haar seun se dood en die wreedaardige manier waarop hy van haar weggeneem is.
Shanique en haar ma, Theresa van Wyngaardt, woon op die plaas, Balmoral, Hoeko, ongeveer 15 km vanaf Ladismith.
Volgens haar het Santino op 2 April by sy pa gaan slaap en moes die Sondag huis toe gaan.
"Omdat dit Maandag 4 April 'n skoolvakansiedag was, het ek gedink dat Santino nog by sy pa aangebly het. Ek het sy pa, Llewellyn Gelant, gekontak, maar hy het gesê dat hy Santino nêrens sien nie."
Sy het verder vertel dat sy Maandag voor 12:00 die polisie in Ladismith gekontak het. Sy liggaam is kort daarna gevind.
Die plek waar Shintino van Wyngaardt se liggaam gevind is.
Shanique van Wyngaardt (regs) en haar ma, Theresa. Foto's: Deon Meyer
Vorige artikels:
- 16-Jarige vas vir moord op Santino
- Liggaam moontlik die van klein Santino
- Seun se verkoolde liggaam in Hoeko gevind
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'