OUDTSHOORN NUUS - Elf verdagtes, wat die afgelope naweek deur die Valke in hegtenis geneem is, het vanmiddag net na 14:00 in die hof verskyn.
Die aanvanklike verklaring van kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê dat nege persone in hegtenis geneem is.
Noloyizo Tose, Thabo Mgaba, Sandile Johnson, Ingrid Wagenaar, Ivan Human, Warren Coetzee, Yolande Stalmeester, Phumezo Tshomiso, Samuel van Hansen, Promises Sovasi en Xolile Gaya staan tereg op verbreking van die padverbruikerswet, bedrog en korrupsie.
Van die verdagtes is amptenare van die munisipale verkeersafdeling en ander is betrokke by 'n bestuurskool in Oudtshoorn.
Sewe van die verdagtes het reeds regsverteenwoordigers aangestel.
Jacolize Jordaan, staatsaanklaer, het vandag aan die hof gesê dat hulle minstens sewe dae nodig het voor hulle met die borgtog kan voortgaan omdat nog aanklagte, wat nog gefinaliseer moet word, bygevoeg gaan word.
Adv. Benito Metembo het egter gesê dat sewe dae heeltemal te lank is en dat sy kliënte reeds die naweek in die polisieselle deurgebring het.
Twee van die verdagtes is weens mediese redes op waarskuwing vrygelaat en die res bly in aanhouding tot môre sodat al die regsverteenwoordigers die hofsaak kan bywoon om die borgtogaansoek te bespreek.
Munisipaliteit reageer op arrestasies:
Raadslede van Oudtshoorn-munisipaliteit het vanoggend ‘n inligtingsessie gehad oor die beamptes van die verkeersdepartement wat die afgelope naweek in hegtenis geneem is.
Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die munisipaliteit, het hulle oor die pad vorentoe gepraat en hoe hulle die te kort aan personeel gaan hanteer.
“Alhoewel die bestuur nie van die ondersoek bewus was nie, sal die munisipaliteit steeds hul volle samewerking aan die polisie gee. Die waarnemende munisipale bestuurder, Walter Hendricks, het vanoggend die verkeersdepartement besoek om seker te maak of die beamptes steeds dienste aan die publiek kan lewer. Dit was ‘n geweldige traumatiese ervaring vir die personeel en daar is besluit om die departement te sluit en weer Woensdag 23 Februarie te heropen. Die personeel sal ook berading ontvang.”
Volgens Mle bly die tekort aan personeel steeds ‘n probleem en het hulle besluit om die dienste van rybewyse en leerlinglisensies, sowel as die hernuwing van lisensies af te skaal, die verkeersdepartement sal ook Saterdae gesluit wees tot verdere kennisgewing en alle afsprake op Maandag en Dinsdag sal geherskeduleer word. Kliënte sal in kennis gestel word van nuwe datums.
Pat Jordaan, bestuurder van die verkeersdepartement het gevra dat mense aanlyn by https://online.natis.gov.za/#/ vir hulle lisensies aansoek doen.
“Dit kan slegs gedoen word as die lisensie nog nie verval het nie en die persoon moet ook in besit wees van ‘n rybewys.”
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'