OUDTSHOORN NUUS - Die 31-jarige Marco Zeelie wat aan verkragting, twee klagtes van seksuele aanranding en dwang van 'n kind om seksuele misdrywe waar te neem, skuldig bevind is, is Vrydag in die streekhof effektiewelik tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Zeelie het die dade in 2008 toe die klaagster agt jaar oud was, en weer in 2011 en 2012, toe sy 11/12 jaar oud was, gepleeg.
Die eerste voorval het in 2008 plaasgevind toe hy aan die borste van die klaagster gevat en sy tong in haar mond gedruk het. Hy het toe aan haar gesê dat dit is hoe 'n mens vry.
Die klagte van verkragting handel oor 'n voorval in 2011 toe Zeelie wederregtelik en opsetlik 'n handeling van seksuele penetrasie gepleeg het deur sy geslagsdeel in haar mond te druk.
Hy het onskuldig gepleit, maar sy getuienis, sowel as dié van sy moeder, is deur streeklanddros Daniël Boks as leuenagtig verwerp.
Die landdros het met vonnisoplegging gesê dat Zeelie skandalige en weersinwekkende misdrywe teenoor 'n kind gepleeg het en amper daarmee weggekom het.
Die kind het hom destyds geglo dat niemand haar sal glo nie. Sy het egter op 'n latere stadium haar onderwyseres daarvan vertel toe sy dit nie meer vir haarself kon hou nie.
Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het die hof vir 'n vonnis gevra wat die regte boodskap sal uitstuur omdat dit die enigste manier is om dié soort misdrywe te help bekamp.
"Die beskuldigde voel niks teenoor die klaagster nie en dit is skokkend dat hy nog in die hof kom jok het," het sy gesê.
Zeelie se regsverteenwoordiger, Gideon Badenhorst, het die hof versoek om die klagtes vir vonnisdoeleindes saam te neem en af te wyk van die voorgeskrewe lewenslange gevangenisstraf omdat die klaagster nie enige beserings opgedoen het nie. Die beskuldigde is ook rehabiliteerbaar.
Die landdros het met vonnisoplegging gesê dat Zeelie in 'n vertrouenposisie was wat hy misbruik het en vroue en kinders teen mense soos hy beskerm moet word. Die hof moet 'n vonnis oplê wat sal verhoed dat die gemeenskap die reg in eie hande neem en die slagoffer ook sal sien dat daar na haar belange omgesien word.
Sy is nog jonk en kry nog soms nagmerries oor die gebeure. Sy het selfs aan selfmoord gedink.
"Dit was skokkend dat die beskuldigde op 'n stadium toe die klaagster getuig het, gelag en aanmerkings gemaak het," het die landdros gesê.
Daar bestaan egter wesenlike en dwingende omstandighede om af te wyk van lewenslange gevangenisstraf.
Die hof het Zeelie op die eerste klagte van seksuele aanranding tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis en op die drie ander klagtes tot altesaam vyftien jaar wat samelopend met die vonnis van drie jaar uitgedien kan word.
Sy naam moet in die nasionale register van seksoortreders opgeneem word.
Hy mag nadat hy sy vonnis uitgedien het, nie met kinders werk of in 'n omgewing werk waar daar kinders is nie. Hy moet ook enige toekomstige werkgewer oor sy skuldigbevinding inlig.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'