OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n man (30) van Oudtshoorn wat teregstaan op vier seksuele aanklagte is verlede week na sy eie getuienis in die Oudtshoorn-streekhof vir uitspraak tot 5 Maart uitgestel.
Die beskuldigde, Marco Zeelie, staan tereg op een aanklag van verkragting, twee van seksuele aanranding en een van dwang of veroorsaking van kinders om seksuele misdrywe of seksuele handeling waar te neem.
Die eerste voorval het na bewering in 2008 plaasgevind toe Zeelie glo aan die borste van die klaagster gevat en sy tong in haar mond gedruk het. Sy was op daardie stadium agt jaar oud. Die ander voorvalle het glo in 2011 en 2012 plaasgevind toe die klaagster 11 en 12 jaar oud was.
Die aanklag van verkragting gaan oor 'n voorval in 2011 toe Zeelie wederregtelik en opsetlik 'n handeling van seksuele penetrasie gepleeg het deur sy penis in haar mond te druk sonder haar toestemming.
Zeelie pleit onskuldig en ontken in 'n pleitverduideliking wat deur sy regsverteenwoordiger, Gideon Badenhorst, aan die hof voorgelees is, dat hy op enige wyse die klaagster seksueel sou geskend het.
Hy het in sy getuienis die klaagster se weergawes van wat met haar gebeur het as onwaar beskryf.
Hy het egter tydens kruisondervraging deur die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, klei getrap en op 'n stadium in trane uitgebars en hofverrigtinge moes vir 'n wyle gestaak word.
Die staatsaanklaer het die hof versoek om hom op al vier aanklagte skuldig bevind terwyl die verdediging vir sy vryspraak vra omdat die staat nie daarin geslaag het om sy saak bo redelike twyfel te bewys nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'