Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n 30-jarige man van Oudtshoorn, Marco Zeelie, is Maandag in die streekhof skuldig bevind op 'n aanklag van verkragting, twee aanklagte van seksuele aanranding en een van dwang van 'n kind om seksuele misdrywe of seksuele handeling waar te neem.
Zeelie het die misdrywe in 2008, toe die klaagster agt jaar oud was, en weer in 2011 en 2012 toe sy 11 jaar oud was gepleeg.
Die hof het sy getuienis sowel as dié van sy moeder as vals en leuenagtig verwerp terwyl die getuienis van die 19-jarige klaagster as geloofwaardig bevind is.
Streeklanddros Daniël Boks het met vonnisoplegging gesê die klaagster het 'n kronologiese uiteensetting van gebeure gegee en die hof kon nie bevind dat sy die beskuldigde vals wou beskuldig nie.
Die feit dat sy eers in 2018 'n klagte gelê het kan nie teen haar gehou word nie het die landdros gesê.
Zeelie het haar na die eerste voorval in 2008 gedreig om dit aan niemand te vertel nie omdat albei van hulle in die moeilikheid sal beland. "Sy was agt jaar oud en het geglo dat niemand haar sal glo nie," het die landdros gesê.
"Sy het later slapelose nagte gehad en van tyd tot tyd terugflitse gekry. Dit het 'n effek op haar gehad en sy het in Mei 2018 besluit om haar onderwyseres daarvan te vertel omdat sy dit nie langer kon uithou nie. Sy het nie geweet hoe om dit aan haar ouers oor te vertel nie en is deur die onderwyseres aangeraai om dit op skrif te stel."
Zeelie se ma het getuig dat die klaagster leuens vertel.
Die beskuldigde se getuienis was een van algehele ontkenning. Volgens hom was die klaagster nooit in 2008 sy baba se oppasser nie. Hy het op 'n stadium die klaagster se getuienis amusant gevind en gelag. Soveel so dat die hof, om die klaagster se ontwil, verrigtinge vir 'n kort rukkie moes verdaag.
Die hof het die misverstand omtrent die baba-oppasser opgeklaar deur te sê die klaagster het die betrokke dag die kind aan die slaap gemaak terwyl sy ma die dag gewerk en sy saam met Zeelie by die huis was.
"Sy was dus nie altyd die kind se oppasser nie, maar per geleentheid," het die landdros verduidelik.
Zeelie se regsverteenwoordiger, Gideon Badenhorst, het die hof om uitstel gevra vir 'n proefbeampte voorvonnisverslag en die saak is hiervoor tot 29 April uitgestel.
Lees 'n vorige artikel: uitspraak in sekssaak kom later
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'