OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit het die week in 'n verklaring gesê, ten spyte van die feit dat die Tuinroete DBV nie meer die dienste van die skut gaan oorneem nie, sal die verskuiwing van die skut steeds voortgaan.
Volgens 'n verklaring van Thomas Matthee, direkteur gemeenskapsdienste, is dié nuus "geen rede tot paniek" nie.
"Die onttrekking van die DBV en die impak daarvan gaan aan die raad voorgehou word en die tussentydse bestuur van die diereskut gaan voort onder leiding van Magda Davel en haar span.
Daar sal gekyk word na 'n moontlike nuwe tender juis omdat die volwaardige bestuur en dienste van die diereskut kundigheid vereis waaroor die munisipaliteit tans nie beskik nie," het hy in die verklaring gesê.
Volgens hom is die mikpunt om teen Desember 2019 wel 'n diensverskaffer aan boord te hê wat die nuwe diereskut sal bestuur en sal die diere wat op daardie stadium in die skut is oorgeskuif word na 'n beter perseel wat ook meer toeganklik gaan wees vir die publiek.
Volgens Matthee dek die munisipale fondse wat tans beskikbaar is al die behoeftes, insluitend die kos van die skut.
"Danksy vrywillige dienste deur vrywillige dierewelsyns-organisasies word die dienste deur Oudtshoorn-munisipaliteit verder aangevul. Die organisasie doen ook self geldinsamelings wat onafhanklik van die munisipaliteit is."
Nadat daar op 19 April in die Oudtshoorn Courant berig is dat die munisipaliteit R1,2 miljoen per jaar vir die skut begroot, is 'n navraag van 'n vrywilliger ontvang wat die stelling bevraagteken. Volgens haar moet daar gereeld geld ingesamel word om kos te koop vir die diere. "Die somme maak nie vir ons sin nie. As mens na die vergoeding van die drie werkers en die uitgawes ten opsigte van vervoer kyk, kom ek nie by R100 000 per maand uit nie."
Hierdie vraag is weer aan die munisipaliteit gestuur waarna hulle weereens aangedui het dat die begroting voorsiening maak vir alle kostes, insluitende kos vir honde en katte in die skut en dienste van veeartse.
Die verklaring is aan dierewelsynsorganisasies gestuur wat voet by stuk hou dat daar nie voldoende fondse voorsien word vir kos en ander benodighede by die skut nie.
Om die kwessie op te klaar het die Oudtshoorn Courant gister 'n versoek aan die munisipaliteit gestuur om 'n uiteensetting van maandelikse kostes van die skut, wat deur hulle gedek word, te verskaf.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'