OUDTSHOORN NUUS - Terwyl die Tuinroete DBV hierdie week kennis gegee het dat hulle nie meer die skut op Oudtshoorn gaan oorneem nie, is die munispaliteit skynbaar salig onbewus van hierdie nuutste verwikkeling. Bruno MacDonald, die ondervoorsitter van die Tuinroete DBV, het verlede week gesê onderhandelinge is nog aan die gang. Hy het egter Dinsdag gesê dat hulle komitee besluit het die DBV beskik nie oor die kapasiteit om Oudtshoorn se skut oor te neem nie.
Op 'n dringende navraag aan die munisipaliteit het Ntobeko Mangqwengqwe, munispale woordvoerder, Dinsdagmiddag gesê die DBV se besluit is vir hulle nuus. Volgens hom was hulle bewus dat daar 'n moontlikheid kon wees dat die DBV sou onttrek.
MacDonald het gister gesê: "Ons waardeer die moeite van Thomas Matthee, direkteur van gemeenskapsdienste van die munisipaliteit, en Vanessa Engelbrecht, voorsitter van ACT SA, en haar span ongelooflik baie. Ons hoop egter dat ons in die toekoms oor die nodige hulpbronne beskik om diere-organisasies in Oudtshoorn te kan help."
Hierdie stap van die DBV kom na drie jaar se onderhandelinge tussen die Oudtshoorn-munisipaliteit en die Tuinroete-dierebeskermingsvereniging (DBV) om die skut oor te neem.
Die Oudtshoorn Courant berig sedert 2017 oor die onderhandelinge tussen die twee partye. Na talle navrae oor die afgelope drie jaar oor wanneer presies die DBV die skut gaan oorneem was die antwoord van die munisipaliteit en die DBV telkens dat hulle nie 'n geskikte perseel vir die skut kan kry nie en dat daar nog kreukels in die kontrak is wat uitgestryk moet word.
Die Oudtshoorn Courant se susterskoerant, George Herald, het vroeër die jaar berig dat vier komiteelede bedank het en drie geskors is. Die rede vir die lede se bedankings en skorsings is egter nie bekend gemaak nie, maar volgens MacDonald het die voorvalle geen invloed gehad op die komitee se besluit om nie die skut oor te neem nie.
Engelbrecht het gesê dat ACT SA (Animal Care Team SA) saam met die DBV die dienste van die munisipale skut sou oorneem.
"Ons is natuurlik diep teleurgesteld dat die geleentheid nie gaan realiseer nie. Ons verstaan egter hul situasie. Ons sal met die munisipaliteit gesels en dan besluit oor wat verder gebeur. Daar sal egter 'n nuwe skut gebou moet word, die vraag is net wie die skut gaan bestuur."
Aurelia Oliphant, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit het op 3 April gesê dat die DBV reeds in Junie 2017 aangestel is en dat die diensooreenkoms uitgestel was tot 'n aangewese area gevind is nuwe geboue opgerig is.
Volgens haar spandeer die munisipaliteit ongeveer R1,2 miljoen per jaar op die bestuur van die skut en was die tender van die DBV vir R1 017 600 per jaar goedgekeur wat in werking sou tree sodra hulle die skut oorneem. Sy het ook gesê die munisipaliteit het begroot vir die oprigting van 'n nuwe skut by die ingang van die munisipale depot wat teen die Desember 2019 voltooi sal wees.
Colleen Smith, voorsitter van Oudtshoorn Dogs in Need (ODIN), sê hulle hoop die nuwe tender vir die bestuur van die munisipale skut word so gou moontlik geadverteer.
"Ons voldoen aan al die vereistes om die skut te bestuur en met Salomé Bruyns, voormalige senior inspekteur van die DBV, wat nou by ons aangesluit het, is ons kanse nog beter. En ons het 'n goeie samewerkingsooreenkoms met die munisipaliteit en die wetstoepassers."
Volgens haar skuif hulle steeds van die diere na George om aannemings te verseker en fokus hulle ook meer op die behandelinge van troeteldiere by huise om die inname by die skut te verminder.
Diere by die Oudtshoorn munisipale skut. Foto's: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'