OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit het 'n vorige besluit om die munisipale diereskut na die munisipale depot te verskuif tydens 'n spesiale raadsvergadering verlede Donderdag herroep. Die raad het besluit dat die beplanningsepartement van die munsipaliteit getaak word om te help met die identifisering van 'n geskikte alternatiwe perseel.
Die raad het tydens 'n vergdaering op 26 April vanjaar besluit om die skut te verskuif.
Dit het gevolg op 'n dringende versoek van die Wes-Kaapse minister, Ivan Meyer, dat die skut weggeneem word van die huidige perseel neffens die rioolwerke op die Rooiheuwel-pad.
Tydens verlede week se vergadering is besluit om die vorige besluit te herroep na besware en erge ongelukkigheid van werknemers by die munisipale depot.
Volgens Allen Paulse, munispale bestuurder, is die werknemers by die depot nie gelukkig met die besluit om die skut daarheen te verskuif nie. In 'n brief van die werkersvakbond, Samwu, beskuldig die werkers die munisipaliteit van onmenslike aksie en totale disrespek vir hul gesondheid en veiligheid. Die werkers het ook 'n petisie aan die munisipaliteit oorhandig. Die grootste ongelukkigheid gaan oor kommunikasie en die gesondheidsrisiko wat die skut vir die werkers inhou, het Paulse gesê.
Die aangeleentheid is op voorstel van rdl. Hendrik Ruiters, voorsitter van gemeenskapsdienste portufeuljekomitee, uitgestel tot die volgende raadsvergadering vir 'n besluit oor 'n geskikte alternatiewe perseel. die Oudtshoorn Courant het op 22 Junie oor die moontlike verskuiwing van die skut berig toe Frieda Janse van Rensburg, bestuurder van die Tuinroete DBV, 'n vergadering van diere-organisasies in Oudtshoorn bygewoon het.
Op daardie stadium het sy gesê die DBV gaan die munisipale skut in Oudtshoorn oorneem wanneer 'n nuwe perseel ingerig is.
"Ons het 'n perseel in die industriële gebied gekry. Daar is egter nog papierwerk tussen ons en die munisipaliteit wat geteken moet word en die strukture moet nog gebou word."
Dit is egter daardie perseel wat nou nie meer besdkikbaar is nie en dit bring mee dat die oorname van die DBV steeds nie gefinaliseer kan word nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'