Op die stadium word daar vermoed dat dit drie minderjarige seuns is wat oor naweke die huise en voertuie vandaliseer.
Volgens Belinda du Plessis wat op die hoek van Jan van Riebeeckweg en St. Saviourstraat woon, is haar huis al drie keer die maand met klippe bestook.
"Ons voel geviktimiseer en dit maak my boos dat kinders sulke goed doen. Om drie keer in een maand groot vensters te moet vervang is 'n duur besigheid en die tweede keer het ons die ruit met shatterproof glas vervang en dit het hulle ook stukkend gegooi," vertel sy ontsteld.
Du Plessis vertel dat sy en die polisie in haar huis gesoek het na die klip wat binne in die vertrek geval het en dit onder die televisiekas aangetref het.
"Dit massiewe rivierklip het 'n keep uit my te-levisiekas geval. Die tweede keer was dit ook 'n klip en die derde voorval 'n baksteen," vertel sy.
Volgens haar weet sy wie die seuns is en was van die seuns 'n hele ruk gelede in 'n ongeluk voor haar huis betrokke waar een van die seuns van 'n motorfiets afgeval het terwyl die bestuurder weggejaag het.
"Die seun het bewusteloos op die sypaadjie gelê. Ek het hom met komberse toegemaak en die polisie en ambulans gebel," vertel sy.
Mnr. Werner Miller wat in Jakarandaweg woon se voertuig se agterruit sowel as die regterkantste ruit is ook met 'n rivierklip uitgegooi.
"Die mense wat saam met my in die huis woon het my so 06:00 op 2 Julie kom wakker maak om my te sê die ruit is uit. Toe ek gaan kyk het, het ek gesien die ruit is uit, maar niks is gesteel nie. Ek het die klip langs die motor gekry," vertel hy.
Feitlik presies dieselfde het met Francois Cilliers en Elizma Janse van Rensburg gebeur.
Cilliers bly in Buitekantstraat en Janse van Rensburg in Oakstraat.
Volgens Cilliers het die voorval twee weke gelede gebeur en is die agterruit sowel as een van die kantruite heeltemal uitgegooi. Hy het ook die rivierklip langs sy motor opgetel.
Janse van Rensburg het op 6 Julie ontdek dat haar motor se ruit sowel as die dak van die voertuig beskadig is toe dit met 'n rivierklip gegooi is.
"Dit is ongerieflik ook. Ek kon vir byna 'n week nie met my voertuig ry nie, want ek moes wag vir 'n nuwe ruit en die rubber moes ook vervang word," het Janse van Rensburg gesê.
Die inwoners is ongelukkig en uit die gesprekke wat die Oudtshoorn Courant met hulle gehad het is dit duidelik dat die voorvalle van vandalisme derduisende rande se skade aangerig het.
Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, is daar 'n toename in sake waar vensters stukkend gegooi word. Hy sê die laaste van die voorvalle het op 6 Julie plaasgevind.
"In die geval van die Jan van Riebeeckweg-voorval is die saak eers 10 Julie gemaak alhoewel die voorval 6 Julie en vroeër plaasgevind het. Die polisie ondersoek nog die saak en daar is moontlike ver-dagtes geïdentifiseer, maar geen arrestasies is nog uitgevoer nie. Wat die ander voorvalle betref is dit maklik om die afleiding te maak dat dieselfde persone ook vir die ander voorvalle verantwoordelik is. Realiteit is egter dat ons nie mense kan arresteer sonder die nodige bewyse en getuienis nie. Die sake word ondersoek en as daar enige getuienis is oor wie verantwoordelik is sal arrestasies uitgevoer word," het hy in 'n verklaring gesê. Op hierdie stadium is niemand nog in verband met die voorvalle aangekla nie.

Werner Miller se motorvenster is op 3 Julie in Jakarandaweg met 'n rivierklip uitgegooi.
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'