KLEIN KAROO NUUS - Streeknuus uit die hof:
Matrikulant se moordsaak
Die saak teen twee verdagtes wat van moord op 'n 19-jarige matrikulant van Oudtshoorn aangekla word, is in die streekhof vir verhoor tot na die Covid-19-inperking uitgestel.
Richard Manel (40) en Shaun Nagel (39) word daarvan aangekla dat hulle Angelo Manewille op Saterdag 28 Julie 2018 wreed in Springbokweg, Bridgton, vermoor het. Die oorledene is glo deur Nagel vasgehou en twee keer deur Manel met 'n mes gesteek.
Die ondersoekbeampte, ao. Piet Hendricks, het die hof in hul borgtogaansoek meegedeel dat hy verklarings van talle ooggetuies bekom het wat die twee beskuldigdes met die moord verbind.
Die beweerde voorval het plaasgevind terwyl Manel op parool was.
Borgtog van R1 000 is aan die twee toegestaan op voorwaarde dat hulle drie dae per week by die Bridgton-polisiestasie aanmeld, nie kontak maak met die agt staatsgetuies nie en ook nie by verdere misdaad betrokke raak nie.
Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla en is uitgestel tot 25 Mei.
Drank wat in die skoorsteenkruiper se rugsak gevind is. Foto's verskaf
Skoorsteen-inbreker sit steeds
Die man wat soos Kersvader toegang deur 'n skoorsteen tot in Wicit-sportkroeg naby Checkers bekom het en homself aan 'n paar bottels sterk drank gehelp het, is steeds in aanhouding.
Perel Solomons word van huisbraak met die opset om te steel en diefstal aangekla, nadat hy in die sportkroeg deur die polisie en personeel van Suiderkruis Sekuriteit vasgetrek is.
Hulle kon niemand binne die gebou sien nadat die eienaar die onderneming oopgesluit het nie totdat een van die polisielede in die skoorsteen opgekyk en 'n man se skoene gesien het. Solomons is op die toneel in hegtenis geneem en die saak is verlede Woensdag deur landdros Roelf Konstabel tot 4 Mei uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'