Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Dorstige dief wat verlede Donderdagnag sy lyf Kersvader gehou en deur die skoorsteen toegang tot 'n bekende sportkroeg op Oudtshoorn verkry het, het sy rieme lelik styfgeloop toe hy nie weer deur die skoorsteen kon wegkom nie.
Volgens een van die mede-eienaars van Wicit Sports Pub, Mauriece Wicomb, is hy omstreeks 12:30 op Donderdag 9 April deur personeel van Suiderkruis Sekuriteit gekontak nadat die onderneming se alarm afgegaan het.
Volgens Wicomb was die polisie en lede van die sekerheidsmaatskappy reeds voor die gebou toe hy daar kom.
Volgens die beamptes kon hulle iemand binne die gebou hoor, maar daar was geen teken van 'n inbraak nie.
"Ek het oopgesluit en toe ons binne kom kon ons niemand vind nie totdat 'n wakker polisiebeampte in die skoorsteen opgekyk en 'n man se skoene gesien het," sê Wicomb.
Hulle het toe die roetbesmeerde man uit die skoorsteen getrek. Volgens Wicomb was die vermeende dief sonder sy hemp en langbroek wat hy aanmekaar gebind het om die sak met sterk drank wat hy daarin gepak het, na bo te trek. Hy kon egter nie daarin slaag om na bo te kruip nie.
Wicomb het die sy dank teenoor die sekuriteitsmaatskappy en die polisie uitgespreek vir hul goeie werk.
"Ons het geen inkomste in die tyd van Covid-19-inperking nie en om nog verliese as gevolg van inbrake te ly is erg," sê hy.
Die voorval by Wicit Sports Pub volg op diefstal van sterk drank verlede Maandagoggend by die nagklub, The Godfather, wat ook aan Wicomb behoort. Daar is ook tydens daardie diefstal toegang tot die perseel deur 'n skoorsteen verkry.
Die verdagte wat Donderdagaand in hegtenis geneem is, is Perel Solomons. Hy het Dinsdag in die hof verskyn en bly in aanhouding tot Vrydag vir 'n moontlike borgtogaansoek.
Vorige artikel: Inbreker in skoorsteen gekry
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'