OUDTSHOORN NUUS - 'n Voormalige polisielid wat aan 200 klagtes van die besit van kinderpornografie skuldig bevind is, is verlede Woensdag in die Oudtshoorn-streekhof effektief tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis.
Die 64-jarige Dale Mackintosh is in 2019 in hegtenis geneem en kragtens die Wet op Rolprente en Publikasies daarvan aangekla dat hy in Desember 2018 in besit was van kinderpornografie op sy rekenaar.
Sy eksvrou het foto's ontdek en die rekenaar na die polisie geneem.
Streeklanddros Daniel Boks het Mackintosh se getuienis dat hy die foto's vir navorsing wou gebruik verwerp.
Volgens die landdros was die foto's meestal van minderjarige seuns en afskuwelik en grusaam. Mackintosh het self erken dat dit walglik was.
Volgens hom het hy die foto's van die internet afgelaai, maar hy was nie daarvan bewus dat dit foto's van minderjariges was nie. Hy wou ook wys hoe maklik dit is om pornografiese materiaal van die internet af te laai en dat hy kinders wou beskerm.
Die hof het sy ouderdom, asook die feit dat hy 'n eerste oortreder is, vir vonnis in ag geneem, maar bevind dat korrektiewe toesig, soos versoek deur sy regsverteenwoordiger, Gideon Badenhorst, nie 'n gepaste vonnis sal wees nie.
Die staatsaanklaer, adv. Michelle Weyers, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra omdat dit die enigste gepaste vonnis vir dié misdryf sal wees.
Die landdros het tydens vonnisoplegging gesê dit is kommerwekkend dat die beskuldigde so baie foto's afgelaai het en vir so lank op sy rekenaar gehou het. Hy het ook geen empatie of simpatie teenoor kinders getoon nie.
Die hof het die 200 klagtes vir vonnisdoeleindes saamgeneem en hom tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis waarvan twee jaar voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.
Hy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
Film- en publikasieraad verheug
Nomvuyiso Batyi, tussentydse uitvoerende hoof van die film- en publikasieraad, sê die vonnis is vir hulle goeie nuus.
"Ons personeel het nou met die polisie in die saak saam gewerk. Ons gebruik internasionaal gesertifiseerde inhoudsontleders om vas te stel of die persone in die materiaal wat aan ons verskaf word minderjarig is. Ons streef daarna om die plaag van materiaal wat vir die seksuele misbruik van kinders gebruik word, uit te wis."
Volgens haar het seksuele roofdiere 'n anonieme woning in die internet gevind wat dit vir hulle maklik maak om 'n persona uit te dink om ander mense uit te buit.
"Die sielkundige skade aan 'n kind wat op hierdie manier mishandel word, word vermenigvuldig wanneer die beelde van die mishandeling vir altyd aanlyn versprei kan word.
Lede van die Suid-Afrikaanse publiek word versoek om enige vermeende uitbuiting van kinders of materiaal wat gebruik word vir die seksuele misbruik van kinders by hotline@fpb.org.za aan te meld.
Vorige artikels:
- Pornografie-saak vir vonnis uitgestel
- Pornografiesaak teen oudpolisielid uitgestel
- Oudpolisielid voor vir pornografie
- Man voor vir kinderpornografie
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'