Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Voormalige polisielid van Oudtshoorn is verlede Woensdag in die Oudtshoorn-streekhof skuldig bevind op 200 aanklagte van die besit van kinderpornografie.
Dale Mackintosh (64) is daarvan aangekla dat hy in Desember 2018 in besit was van 'n film of publikasie wat uitbeeldings, beskrywings of tonele van kinderpornografie bevat.
Hy is in 2019 in hegtenis geneem nadat sy gewese vrou sy tabletrekenaar na die polisie geneem het nadat sy die foto's op die rekenaar ontdek het.
Macintosh het onskuldig gepleit op al die aanklagte.
Hy het in 'n pleitverduideliking erken dat hy foto's op sy rekenaar afgelaai het, maar nie bewus was dat die kinders op die foto's minderjarig was nie.
Die staatsaanklaer, adv. Michelle Weyers, het na die getuienis van 'n pornografiedeskundige van Pretoria, Mmaletjema Poto, die staat se saak gesluit en die hof vir Macintosh se skuldigbevinding op al die aanklagte gevra.
Streeklanddros Daniel Boks het in sy uitspraak gesê Poto het 'n goeie indruk op die hof gemaak. Sy getuienis was betroubaar en deurslaggewend en die staat het sy saak bo redelike twyfel bewys.
Hy het Macintosh se getuienis, dat hy die foto's vir navorsing wou gebruik en die jeug wou beskerm, verwerp.
Volgens die landdros was die meeste foto's dié van jong seuns. Dit was volgens die landdros afskuwelike en grusame foto's. Daar was ook foto's van orale seks. Die beskuldigde het self erken dat van die foto's walglik was. Sy getuienis dat hy ook die publiek wou wys hoe swak die internet is, is ook verwerp.
"Die beskuldigde het nie 'n goeie indruk op die hof gemaak nie. Hy het die hof meegedeel dat hy kinderbediening doen, maar niks gedoen om kinders te beskerm nie. Die beskuldigde het onwettig 200 afbeeldings van kinderpornografie in sy besit gehad en word skuldig bevind soos aangekla," het die landdros afgesluit.
Volgens die staat het Macintosh nie enige vorige veroordelings op sy rekord nie.
Sy regsverteenwoordiger, Gideon Badenhorst, het die hof meegedeel dat hy tans op Mosselbaai woonagtig is en die hof vir 'n korrektiewe toesigverslag gevra voordat hy gevonnis word.
Die versoek is deur die hof toegestaan en die saak is tot 14 Junie uitgestel.
Macintosh is op waarskuwing vrygelaat.
Vorige artikels:
- Pornografiesaak teen oudpolisielid uitgestel
- Oudpolisielid voor vir pornografie
- Man voor vir kinderpornografie
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'