OUDTSHOORN NUUS - 'n 64-jarige oudpolisielid, Dale Mackintosh, verskyn tans in die Oudtshoorn-streekhof op 200 aanklagte van kinderpornografie.
Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, is hy in 2019 in hegtenis geneem nadat sy gewese vrou sy tabletrekenaar na die polisie geneem het na sy die foto's ontdek het.
"Die tablet is vir ontleding na die film- en publikasieraad gestuur waarna ongeveer 200 foto's, wat kinderpornografie bevat, gevind is. Hy het reeds in 2010 die polisie verlaat. Hy word aangekla volgens die Film en Publikasie Wet 56/1996 vir die besit van kinderpornografie. Die saak word deur die polisie se provinsiale gesinsgeweld-, kinderbeskerming- en seksuele misdrywe-eenheid ondersoek."
Mackintosh het reeds in die hof verskyn en op 1 Oktober vanjaar onskuldig op die 200 klagtes teen hom gepleit.
Volgens sy pleitverduideliking erken hy dat hy die foto's op sy tablet afgelaai het en dat sy gewese vrou dit aan die polisie oorhandig het.
Volgens hom was hy egter nie bewus van die feit dat die kinders op die foto's minderjarig is nie en vra hy die staat om die saak teen hom te bewys.
Die saak dien voor streeklanddros Daniël Boks. Advokaat Michelle Weyers tree vir die staat op en Gideon Badenhorst vir Mackintosh.
Die saak gaan op 27 November voort waar 'n pornografiedeskundige verder sal getuig.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'