Update
OUDTSHOORN NUUS - Die vrouesoldaat wat Dinsdag in Van der Rietstraat deur 'n bakkie getref is, is na die George-hospitaal oorgeplaas vir 'n operasie aan haar gebreekte been.
Skutter Annoeschka Rabie (29) het saam met twee kollegas oor die laagwaterbrug in Van der Rietstraat gestap toe sy van agter deur 'n Isuzu-bakkie getref is. Die bakkie het versuim om te stop.
Rabie se been is deur die slag gebreek, sy het haar linkerskouer beseer en ook 'n hoofbesering opgedoen. Die kollega wat langs haar gestap het, het 'n nekbesering opgedoen toe Rabie teen haar vasgeslinger is.
'n Derde vrou wat voor hulle gestap het, is nie beseer nie. Volgens 'n offisier, in wie se eenheid die drie vroue is, was hulle op pad van die dorp af toe die voorval plaasgevind het.
Die bestuurder van 'n voertuig wat agter die bakkie gery het, het die voorval gesien en die bakkie agternagesit tot by die huis waar die bestuurder van die bakkie woon. Hy het foto's van die bakkie en die adres aan die polisie gegee.
Die bejaarde man, wat na bewering die bakkie bestuur het, het 'n ruk later voor die huis aan mense gesê hy was nie bewus daarvan dat hy iemand raakgery het nie. Die eienaar van die huis het hom geroep nadat sy gesien het daar drom mense om sy beskadigde bakkie saam.
Die voorkant van die beskadigde bakkie nadat dit 'n voetganger getref het.
Foto: Hannes Visser
Volgens kennisse van die man, wat ook by die huis was, is die man se gehoor en sig nie meer goed nie.
Sers. Gretchen Michaels, polisiewoordvoerder, het gesê 'n klag van roekeloos of nalatige bestuur word ondersoek. Daar word ook 'n klag van versuim om na 'n botsing te stop om skade en beserings vas te stel, ondersoek.
"Niemand is gearresteer nie, die saak word eers volledig ondersoek," het sy gesê.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'