Update
OUDTSHOORN NUUS - Die bejaarde bestuurder van die Isuzu-bakkie wat na bewering die voetganger in Van der Rietstraat raakgery het, sê hy het nie geweet hy het iemand getref nie.
Die media was vanmiddag by die huis waar die man woon en waar die bakkie voor die huis geparkeer was.
Die man het na die skade aan die bakkie gewys en gesê hy weet nie wat gebeur het nie.
Die bakkie het ‘n duik op die linker modderskerm, die kantspieëltje, lugdraad en ‘n kantliggie is stukkend.
Volgens twee vriendinne wat saam met die beseerde vrou gestap het, het die bakkie van agter gekom terwyl hulle links van die pad en links van ‘n plas water gestap het.
Volgens een vrou het die bakkie na links geswenk en haar kollega getref. ‘n Voertuig wat agter die bakkie gery het, het dit agternagesit.
Die persoon het foto’s van die bakkie asook die adres waar die bestuurder ingegaan het aan die polisie verskaf.
Een van die vroue wat saam met die slagoffer was, het ook foto’s van die bakkie geneem terwyl dit wegry.
Polisie op die toneel het aangedui dat ‘n dossier geopen sal word en aan speurders oorhandig sal word vir ondersoek.
Die drie vroue is almal lede van die weermag wat met opleiding besig is.
Lees 'n vorige artikel: Tref-en-trap in Van der Rietstraat
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'