Update
CALITZDORP NUUS - Na drie dae van buite die skool sit, kon leerders en onderwysers van 'n skool in Calitzdorp gister weer met klasse voortgaan nadat ouers se vasberadenheid om nog poste vir die skool te kry, vrugte afgewerp het.
'n Groot groep ouers het Maandagoggend die hekke van Excelsior VGK Primêr in Bergsig, Calitzdorp, gesluit. Leerders en onderwysers is toegang tot die skool geweier terwyl die ouers aangedring het dat die WKOD dringend 'n oplossing vir oorvol klaskamers gee.
Teen Woensdag was die ouers steeds op hulle pos en 'n ouervergadering is vir Woensdagaand beplan, waarheen die streek se direkteur van onderwys genooi is om oplossings te bring.
Volgens die beheerliggaam se sekretaresse, Colleen Murphy, het die skool 550 leerders en 13 onderwysers. "Op papier is daar dus 42 leerders per klas, maar dis op papier. Die werklikheid is dat sommige grade meer kinders as ander het en dit beteken dat daar klasse is waar daar tot 66 leerders in een klas sit en drie of vier van hulle een bank moet deel."
Sy het Woensdag voor skool gesê hulle besef dit is 'n drastiese stap om die skool se hekke toe te maak, maar het benadruk dat talle vorige gesprekke met die WKOD op niks uitgeloop het nie.
"Ons is al lank in gesprek met die departement, maar ons kry geen reaksie of oplossing nie. Hulle (die WKOD) verdraai die feite as hulle sê hulle het geen aansoek vir ekstra poste ontvang nie. Dit is so, maar dit is omdat ons eie kringbestuurder en ander amptenare vir ons gesê het ons kwalifiseer nie vir ekstra poste nie, dus maak dit geen sin om aansoek te doen nie."
Sy het aan 'n groep ouers verduidelik dat die skool weer met die verpligte opname van leerdergetalle op die tiende skooldag, die WKOD in kennis gestel het dat sommige klasse se getalle te hoog is.
"Jy weet, as kinders drie-drie op 'n bank moet sit en die onderwyser kan skaars deur die volgepakte klaskamer beweeg, ly die kind se opvoeding daaronder en die onderwyser se werk word ook aan bande gelê."
Teen Woensdagmiddag was die ouers vasbeslote om die skool onbepaald gesluit te hou indien die WKOD nie tydens die aand se ouervergadering iets daadwerkliks doen nie.
Murphy het die Oudtshoorn Courant laat Woensdagaand in kennis gestel dat hulle tydens die vergadering deur die WKOD meegedeel is dat die skool nog 'n onderwyser gaan ontvang en daar word ook stappe geneem om die gr.5-klas wat die grootste klas in die skool is, in twee te deel.
"Ons is baie tevrede met die nuus en dit is ten minste 'n stap in die regte rigting om ons probleme aan te spreek. Hierdie week se vasbyt en saamstaan van ouers wys dat 'n mens vreedsaam en op verantwoordelike wyse kan opstaan en optrede van owerhede eis."
Onderwysers sit geduldig buite die skool in Calitzdorp na die ouers die hekke van die skool gesluit het.
Nog 'n verteenwoordiger van die skool het gesê skole in groter dorpe en in meer vooraanstaande gebiede is in staat om beheerraadposte te skep en klasassistente aan te stel omdat hulle geld het daarvoor.
"Sommige skole het byna net soveel beheerraadposte as wat hulle departementele poste het en baie van hierdie skole kry groot borgskappe en ondersteuning uit die sakesektor. Ons skool is in 'n arm gemeenskap waar werkloosheid hoog is, maar ons word selde genader om te hoor wat ons behoeftes is."
Murphy kon teen gister nog nie bevestig wanneer die nuwe pos gevul gaan word nie, maar het gesê dat die skoolhoof en seniorbestuur van die skool reeds besig was met stappe om die gr.5-klas te verdeel.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'