OUDTSHOORN NUUS - 'n Groot groep straatsmouse en klein besighede het gisteroggend 'n vreedsame protesaksie by 'n karwasondeneming oorkant die munisipale gebou in St. Johnstraat gehou en 'n memorandum aan Lluwellyn Coetzee, direkteur van strategiese dienste, oorhandig.
Volgens die koördineerder van die groep, Jacobus Martin, volg hulle optrede op 'n raadsbesluit van 8 Februarie wat bepaal dat straathandelaars en smouse by die taxistaanplek vanaf 1 Julie vir permitte moet aansoek doen wat jaarliks hernu moet word.
Luidens 'n verklaring van die Oudtshoorn-munisipaliteit is hierdie besluit geneem om regverdige en gelyke geleenthede vir alle inwoners te bied om deel te neem aan die ekonomie van die dorp.
Martin het tydens die oorhandiging van die memorandum gesê: "Dit gaan vir ons hier oor mense se livelihoods. Hoe verwag jy dat smouse wat vir 20 jaar lank sake doen nou ewe skielik moet padgee en elke keer heraansoek moet doen. Families wat afhanklik is van die smouse se inkomste gaan daaronder ly. Ons is ontevrede omdat daar geen publieke deelname was voor die besluit geneem is nie. Die toilette by die taxirank is ook in 'n haglike toestand."
Een van die protesteerders het ook gekla dat sommige smouse se stalletjies natreën en dat sommiges se produkte deur die fel son bederf word.
Coetzee het met die ontvangs van die memorandum gevra dat die partye mekaar voortaan sal respekteer sodat daar 'n oplossing gevind kan word. Hy het toegegee dat die fasiliteite nie is wat dit moet wees nie. Volgens hom sal 'n vergadering binnekort gehou word waarna daar met die verteenwoordigers van die smouse en klein besighede gekonsulteer sal word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'