Update
DYSSELSDORP NUUS - Borgtog is Maandag in die streekhof geweier aan 'n man van Dysselsdorp wat daarvan aangekla word dat hy die 20-jarige Ruwaan (Boetie) Kennedy op 4 Mei vanjaar buite die Da-la-lee nagklub doodgesteek het.
Familielede en vriende het hardop begin huil toe die ondersoekbeampte, sers. Enver Wessels in sy getuienis die hof meedeel dat die nadoodse ondersoek toon dat Kennedy 26 keer met 'n mes gesteek is.
Hy is in sy bors, langs sy een oor en ook in die rug gesteek, het Wessels getuig.
'n Steekwond in sy hart het sy dood veroorsaak.
Die skokkende feite het na vore gekom in die getuienis van die ondersoekbeampte, sers. Enver Wessels, in die borgtogaansoek van die verdagte moordenaar, Christopher Prins (27).
Prins staan tereg op aanklagte van moord en poging tot moord en is deur streeklanddros Daniel Boks borgtog geweier.
Hy het aanvanklik nie in die distrikshof om borgtog aansoek gedoen nie, maar verlede week in die streekhof toe die verhoor moes begin, van plan verander.
Gemeenskapslede van Dysselsdorp het vroegoggend weer voor die hofgebou teen die toestaan van borgtog betoog en 'n memorandum aan hooflanddros Jaco Lamprechts oorhandig.
''n Memorandum van die gemeenskap is nie die alpha en die omega van 'n borgaansoek nie, maar die hof sal egter sy plig versuim indien die gevoel van die gemeenskap nie in ag geneem word nie," het die landdros in sy uitspraak gesê.
In die memorandum voer inwoners aan dat Prins nou besluit het om vir borgtog aansoek te doen omdat Kersfees nader kruip en hy op Dysselsdorp wil rondloop om weer misdaad te pleeg. Die ondersoekbeampte het borgtog om verskeie redes teengestaan. Hieronder is Prins se rekord van vorige veroordelings vir ernstige aanranding asook sy verlede.
Hy is 'n vorige keer vrygespreek op 'n aanklag van moord terwyl 'n klagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer ook al teen hom teruggetrek is.
Volgens die ondersoekbeampte het al die voorvalle in dieselfde dansplek in Dysselsdorp plaasgevind met Prins wat mense met 'n mes gesteek het.
Hy het ook probeer om een van die getuies op die moordtoneel te steek. Hy het die klere wat hy aangehad het gaan uittrek en 'n verkeerde woonadres verskaf wat vrese laat ontstaan dat hy nie vir die verhoor hof toe sal kom nie.
Die staatsaanklaer, Nadia Arnold, het vir weiering van borgtog gevra omdat Prins 'n geneigdheid vir geweld toon en die oorledene nie 'n wapen by hom gehad het nie.
Sy rede vir borg dat hy vir sy twee kinders wil gaan werk moet ook verwerp word omdat sy meisie wel werk en vir die kinders sorg.
Prins se regsverteenwoordiger, Cindy Smith, van die plaaslike Regshulpraad, het haar kommer oor hoorsê-getuienis uitgespreek en dat dit in belang van geregtigheid is dat borgtog wel toegestaan behoort te word.
Die saak is vir verhoor tot 19 November uitgestel.
Lees vorige artikels:
- Verdagte soek borgtog
- Moordsaak vir streekhofdatum uitgestel
- Moordverdagte laat vaar borgtogaansoek
- Moord ruk gemeenskap van Dysselsdorp
- Ruwaan se begrafnis Saterdag
- Jong man in Dysselsdorp vermoor
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'