OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit het sekerheidsmaatreëls by die munisipale gebou in Voortrekkerweg verskerp.
Volgens die munisipale bestuurder, Allen Paulse, het die maatreëls op 9 April in werking getree en spruit dit uit 'n reeks voorvalle dié maand.
Ntobeko Mangqwengqwe, senior woordvoerder van die munisipaliteit, sê die eerste voorval was op 2 April toe twee mans, van 'n klein kontrakteursfirma op Oudtshoorn, glo vir Paulse in sy kantoor gedreig het.
Dieselfde twee mans het later die dag gedreig om die direkteur van gemeenskapsdienste, Thomas Matthee, dood te maak. Op 8 April is Paulse deur 'n groep klein kontrakteurs by die OVK-kantore op Oudtshoorn ingewag. Mangqwengqwe sê Paulse is nou onder streng bewaking omdat hy vir sy lewe vrees.
"Die maatreëls is ingestel om al die munisipale amptenare, sowel as munisipale eiendom te beskerm. Ons wil ook hierdeur verseker dat munisipale dienste onversteurd voortgaan," het Paulse die week in 'n verklaring gesê.
Volgens hom is hulle bewus van ernstige dreigemente teen amptenare en kan hulle nie bekostig om die dreigemente te ignoreer nie.
"Dit sal onverantwoordelik wees om nie aandag te skenk aan die dreigemente nie. Ons het ook die polisie in kennis gestel. Ons kan ook nie die moontlikheid uitsluit dat die dreigemente polities gemotiveerd is nie," het Paulse verder gesê.
Sekerheidsmaatreëls behels onder meer die volgende:
Toegang tot die hoofgebou sal deur sekerheidsbeamptes beheer word.
Personeel sal slegs toegang hê tot die perseel/parkering met hul voertuie vanaf die ingang by Vredestraat.
Alle besoekers aan die hoofgebou kan toegang verkry via die twee hoofingange in die hoofgebou en die nuwe raadsgebou.
Alle besoekers moet besoekersregister by elk van die twee ingange voltooi.
Besoekers sal gemagtig wees om die gebou binne te gaan op goedkeuring deur die beampte wat besoek word.
Geen groepbesoekers (meer as twee) word toegelaat sonder vooraf goedkeuring van die munisipale bestuurder nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'