OUDTSHOORN NUUS - Die borgtogaansoek van die 11 verdagtes wat die afgelope naweek vir ondermeer bedrog in hegtenis geneem is, sal Vrydag 25 Februarie in die Oudtshoorn-landdroshof begin.
Die verdagtes is tydens 'n gesamentlike operasie tussen die polisie, die kuber-misdaadeenheid, misdaadintelligensie, die Valke en die department van vervoer gearresteer. Hulle is tussen 34 en 61 jaar oud.
Noloyizo Tose, Thabo Mgaba, Sandile Johnson, Ingrid Wagenaar, Ivan Human, Warren Coetzee, Yolande Stalmeester, Phumezo Tshomiso, Samuel van Hansen, Promises Sovasi en Xolile Gaya staan tereg op klagtes van bedrog, korrupsie, geldwassery en die verbreking van die padverkeerswet. Van die verdagtes is beamptes by die verkeersdepartement terwyl die ander betrokke is by 'n plaaslike bestuurskool. Stalmeester is oudburgemeester, Gordon April, se dogter.
Sindikaat
Volgens kaptein Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, word daar beweer dat die verdagtes deel vorm van 'n sindikaat wat leerlinglisensies- en rybewyse aan applikante uitreik teen vergoeding deur van die bestuurskool gebruik te maak.
"Die ondersoekspan het die huise van die verdagtes sowel as die verkeerskantoor deursoek en die verdagtes is in hegtenis geneem. 'n 14-ton Mercedes-vragmotor, 'n motor, selfone en kontant wat in die beweerde misdryf gebruik is, is gekonfiskeer."
Stampvol hof
Die 11 het Maandag hul eerste verskyning in 'n stampvol hof gehad. Landdros Graehymme Jesus Williams wou nie die hofverrigtinge begin voor die mense in die galery nie minder gemaak word nie.
Familie en vriende was ongelukkig oor dié reëling en wou aanvanklik nie die hof verlaat nie. Hofordonnanse het gesê dat net een familielid per aangeklaagde toegelaat word. Die sake is na Dinsdag toe gerol sodat al die beskuldigdes regsverteenwoordiging kon kry.
Jacolize Jordaan, staatsaanklaer, het Dinsdag gevra dat die borgtogaansoek na volgende Maandag uitgestel word omdat die staat nog klagtes teen die verdagtes wil bring en die staat en ondersoekbeamptes nog besig is om die borgtogprofiele saam te stel en inligting nodig het.
Teen uitstel
Adv. Benito Metembo, regsverteenwoordiger van Tose, Human, Mgaba, Stalmeester, Van Hansen, Sovasi en Gaya, het gesê dat hy so gou as moontlik die borgtogaansoek wil bring.
"Die beamptes was al van Vrydag in Oudtshoorn. Hulle het geen ander sake hier gehad nie en het meer as genoeg tyd gehad om, saam met die staat, al die inligting te bekom. Wat het hulle dan tussen Vrydag en vandag (Dinsdag) gedoen?"
Bulelani Jerome Bans verteenwoordig vir Wagenaar en Coetzee. Bradley Micheals, Johnson se prokureur en adv. Zukile Mqulo, Thomiso se verteenwoordiger, het ook kapsie gemaak teen die staat se versoek om uitstel.
Jordaan het gesê hoewel die ondersoek al in Julie 2021 deur die Valke begin is, het die georganiseerde misdaadeenheid dit eers in Oktober 2021 oorgeneem en kon dus nie so baie inligting bekom soos die verdediging voorstel nie.
Hoewel landdros Williams saam met die verdediging gestem het oor die feit dat die staat al meer inligting kon bekom het, het hy die saak tot Vrydag uitgestel.
Berading
Raadslede het Maandagoggend 'n inligtingsessie gehad oor die beamptes wat die afgelope naweek in hegtenis geneem is.
Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die munisipaliteit, het die waarnemende munisipale bestuurder, Walter Hendricks, die departement besoek om seker te maak of dienste aan die publiek gelewer kan word.
"Dit was 'n geweldige traumatiese ervaring vir die personeel en daar is besluit om die departement vir twee dae te sluit. Die personeel sal ook berading ontvang."
Dienste afgeskaal
Volgens Mle bly die tekort aan personeel 'n probleem en het hulle besluit om die dienste van rybewyse en leerlinglisensies, sowel as die hernuwing van lisensies af te skaal.
Die verkeersdepartement sal ook Saterdae gesluit wees tot verdere kennisgewing. Al Maandag en Dinsdag se afsprake sal geherskeduleer word. Kliënte sal in kennis gestel word van nuwe datums.
Pat Jordaan, bestuurder van die verkeersdepartement het gevra dat mense aanlyn by Natis vir lisensies aansoek doen.
"Dit kan slegs gedoen word as die lisensie nog nie verval het nie en die persoon moet ook in besit wees van 'n rybewys."
'n Ondersoekbeampte kyk na bewyse in 'n verdagte se voertuig.
Die vragmotor wat deur die polisie gekonfiskeer is.
Vorige artikels:
- 11 Aangeklaagdes Vrydag vir borg
- 11 In Bedrogsaak verskyn in hof
- Nege persone vas vir bedrog
- Personeel by verkeersdepartement in hegtenis geneem
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'