Update
OUDTSHOORN NUUS - Sy sal nooit die bebloede gesig van haar man daardie oggend vergeet nie en mis hom verskriklik. Hulle was 47 jaar getroud en sy kan nie glo dat die twee wat voor hulle op die plaas grootgeword het, dit aan hom sou doen nie.
So het die bedroefde weduwee, Cornelia, van wyle Frans Tredoux, Dinsdag in die streekhof ter strafverswaring van Ronaldo Olkers (20) getuig.
Olkers is een die twee broers van Van Wykskraal net buite Oudtshoorn wat van roof met verswarende omstandighede aangekla is.
Die saak was reeds in 'n gevorderde stadium toe die voorsittende beampte, streeklanddros Mark van Wyngaardt, in November 2017 gesterf en die saak as 'n nuwe saak op die hofrol geplaas is.
Die 20-jarige Olkers en sy 34-jarige broer, Jacobus van der Horst, is daarvan aangekla dat hulle op 29 Mei 2017 vir Frans Tredoux in sy winkel met 'n knopkierie geslaan, met 'n skerp voorwerp gesteek en van R200 kontant beroof het. Hy het drie steekwonde in sy kop gehad wat tot die skedel deurgedring het en is einde 2017 oorlede kort nadat hy van die aanranding herstel het.
Van der Horst pleit onskuldig en sy verhoor sal later begin.
Olkers het in 'n vrywillige bekentenis en sy borgtogaansoek erken dat hy Tredoux met 'n kierie geslaan en met 'n mes gesteek het. Hy het daarna drie keer van regsverteenwoordiger verander en 'n aansoek dat die saak van die hofrol verwyder word na die dood van die klaer is in 2018 deur die direkteur van openbare vervolging afgekeur.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof versoek om nie af te wyk van die voorgeskrewe vonnis van 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede nie.
Die bejaarde eggenote van Tredoux het in 'n roerende getuienis ter strafverswaring getuig hoe sy haar man mis en hul kleinkinders nie meer 'n oupa het nie.
Volgens haar het hulle die winkel bedryf vir plaaswerkers wat dit nie aldag kan bekostig om na Oudtshoorn te reis nie.
Hulle het aangedring dat sy die winkel weer oopmaak en sy het dit ter wille van hulle gedoen, maar op 'n kleiner skaal vanuit haar huis.
Olkers se regsverteenwoordiger, Vaughn Shone, het met vonnisoplegging aan streeklanddros Ntsoki Moni gesê dat sy kliënt aan 'n ernstige misdryf skuldig bevind is, maar die hof gevra om sy jeugdigheid vir vonnisoplegging in ag te neem.
Volgens Moni is dit tragies dat jong mense soos Olkers so kan aangaan en verwag dat hulle nie swaar vonnisse opgelê kan word nie.
Die saak teen Van der Horst is vir verhoor in 'n ander hof, tot 27 Junie uitgestel.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'