OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen twee mans wat daarvan aangekla word dat hulle 'n 75-jarige winkeleienaar wreed aangerand en beroof het, het Vrydag 'n nuwe kinkel in die kabel gekry toe die paaie van een van die verdagtes en sy regsverteenwoordiger geskei het.
Eugene Roos van die Regshulpraad het die hof om 'n verdaging gevra nadat Ronaldo Olkers (19) onskuldig gepleit het terwyl hy tydens konsultasie aangedui het dat hy skuldig sal pleit.
Die verhoor sou Vrydag van vooraf begin na die dood verlede jaar van streeklanddros Mark van Wyngaardt.
Olkers en sy medebeskuldigde, Jacobus van der Horst (34), se regsverteenwoordigers, Eugene Roos en adv. Stoffel Prinsloo, het vertoë gerig omdat die klaer, Frans Tredoux, intussen ook oorlede is en daar nie meer 'n klaer in die saak is nie. Tredoux was te siek om in die saak te getuig.
Die twee verdagtes het na bewering vir Tredoux die oggend van 29 Mei 2017 in sy winkel op Van Wykskraal met 'n knopkierie geslaan, met 'n skerp voorwerp gesteek en van R200 kontant beroof.
Olkers het verlede jaar reeds 'n vrywillige bekentenis aan 'n onafhanklike polisiebeampte gemaak en het met sy borgtogaansoek erken dat hy Tredoux met 'n kierie oor sy ribbes geslaan en met 'n mes gesteek het.
Streeklanddros Retha Pretorius wou Vrydag van Olkers weet of hy weer om regshulp aansoek wil doen.
Sy het Olkers ook gewaarsku dat indien hy skuldig bevind word hy tronkstraf van vyftien jaar opgelê kan word.
"Daar is tegniese aspekte betrokke wat u dalk kan benadeel sonder grondige regskennis."
Die twee verdagtes is in aanhouding en die saak is vir verhoor tot 28 Augustus uitgestel.
Sewe getuies onder wie die Tredoux se bejaarde eggenote is gewaarsku om weer op die datum by die hof te wees.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'