OUDTSHOORN NUUS - Die twee verdagtes wat daarvan aangekla word dat hulle 'n 75-jarige winkeleienaar wreed aangerand en beroof het, het gister (Dinsdag) weer vlugtig in die Oudtshoorn-streekhof verskyn. 'n Nuwe verhoordatum is vasgestel nadat 'n derde regsverteenwoordiger vir een van hulle op rekord gekom het.
Ronaldo Olkers (20) en Jacobus van der Horst (34), word daarvan aangekla dat hulle op 29 Mei 2017 vir Frans Tredoux in sy winkel op Van Wykskraal met 'n knopkierie geslaan, met 'n skerp voorwerp gesteek en van R200 kontant beroof het.
Tredoux is intussen oorlede en Olkers het al twee keer van regsverteenwoordiger verander.
Die verhoor was al in 'n gevorderde stadium toe streeklanddros, Mark van Wyngaardt, in November 2017 oorlede is en dit as 'n nuwe saak op die hofrol geplaas is. Vertoë wat die verdediging tot die direkteur van openbare vervolging gerig het dat die saak geskrap word, was onsuksesvol.
Olkers het in 'n vrywillige bekentenis erken dat hy Tredoux met 'n kierie oor sy ribbes geslaan en met 'n mes gesteek het.
Die saak dien voor streeklanddros Retha Pretorius en is gister vir verhoor tot 28 Mei uitgestel. Vaughen Shone is Olkers se derde regsverteenwoordiger terwyl adv. Stoffel Prinsloo namens Van der Horst verskyn.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'