Update
OUDTSHOORN NUUS - Die lewe gaan oor beïnvloeding en Lulu het 'n unieke manier gehad om dit te doen.
So het ds. Andries Potgieter Saterdag in die NG Kerk Welgeluk tydens 'n roerende roudiens vir die vrou van die bekende sakeman van Oudtshoorn, André van Greunen, gesê.
Lulu is op 6 Maart in Bali oorlede, kort nadat sy en haar man saam met twee huisvriende, vir 'n vakansie in Thailand aangekom het.
Potgieter het na aanleiding van Speuke 17:27 die familie getroos met sy teks: "Iemand met kennis praat nie baie en iemand met insig bly kalm."
Lulu was volgens hom so 'n persoon.
"Sy het geweet wanneer om te praat en wanneer om stil te bly. Sy was stadig om te oordeel en altyd bereid om te luister."
Volgens Potgieter is die lewe op aarde baie kort en die vraag is wat elkeen daarmee maak.
Die Van Greunen-egpaar het twee jaar gelede hul huweliksbeloftes hernu en het sy daarmee baie mense beïnvloed.
"Ons moenie skaam wees om te wys vir wie ons liefhet nie."
Volgens Potgieter was Lulu 'n mens wat voluit gelewe het.
"Kom ons onthou dit en vier haar lewe."
Volgens Potgieter was Lulu gek oor Elvis Presley en is daar aan haar begeerte voldoen om haar geliefde lied van die sanger te speel: I can feel His hand in mine.
Een van haar drie dogters, Petro Westraad, het haar ma as 'n besonderse persoon beskryf en 'n boodskap van haar pa voorgelees waarin hy sy vrou as 'n liefdevolle sterk vrou beskryf.
"Ons was sielsgenote. Sy was opreg, dierbaar en 'n reguit mens. Dankie my vrou," lui sy brief.
Die roudiens is afgesluit met 'n sangstuk wat die New Born Messengers gelewer het. Lulu laat haar man, drie dogters, Donna-lida van der Berg, Tessa Nortjie, Petro, en ses kleinkinders agter.
Lees vorige artikels:
ARTIKEL: GARNETT WICOMB, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'